Aannames die moeder van alle mislukkings

Deur Andró Griessel, 02 April 2016

In die rolprent Under Siege 2 met Steven Seagal vra die hoofboef sy handlanger of hy Seagal langbome toe gestuur het.

Die handlanger antwoord hy het Seagal geskiet en neem aan hy’s dood, maar dat hy nie die lyk gesien het nie.

Die hoofboef kom dan met die volgende pêrel van wysheid voren­dag. Hy sê: “Assumption is the mother of all f. . .ups.”

Ons sien dan ook enkele ­minute later hoe hierdie profetiese woorde van hom volbring word wanneer Seagal sy opwagting maak in ’n minder tegemoetkomende bui.

Wanneer dit by finansiële beplan­ning kom, struikel menige mens se beplanning juis oor die aanname-hekkie. Omdat die meeste beplannings vir lang termyn gedoen word, is die uitkoms uiters sensitief vir foutiewe aannames.

Dis ’n goeie idee om op jou volgende vergadering met jou beplanner ’n strestoets te doen op die aannames wat julle gemaak het – met ander woorde, om van hierdie aannames te verander.

Voorbeeld

Ter illustrasie gebruik ek ’n oorvereenvoudigde voorbeeld. Die beginsel behoort egter duidelik te blyk:

Die Van der Merwes beplan vir aftrede. Hulle is 40 jaar oud, het reeds R500 000 se netto beleggingsbates (woonhuis uitgesluit) met pensioenfondse, effektetrusts, ’n tweede eiendom, ensovoorts, opgebou en hulle spaar maandeliks gesamentlik nog R5 000.

Hulle beplan om op 65 af te tree en in daardie sta­dium ’n voorbelaste bedrag van R30 000 per maand (in vandag se koopkrag) beskikbaar te hê om van te leef. Hierdie bedrag moet jaarliks met die inflasiekoers toeneem totdat hulle die dag te sterwe kom.

Dit behoort duidelik te wees dat daar in die bogenoemde scenario ’n hele klomp onbekende insette is waaroor uiteraard aannames gemaak moet word.

Van die belangrikstes is:

* Die bedrag waarmee die maandelikse bydraes in die toekoms gaan eskaleer;

* Dat hulle wel tot 65 sal kan werk;

* Wat die gemiddelde opbrengs op hul beleggings vóór aftrede gaan wees;

* Wat die opbrengs op hul beleg­gings ná aftrede gaan wees;

* Wat die inflasiekoers gaan wees; en

* Hoe lank hulle gaan leef.

Die tabel hierby wys hoe relatief klein afwykings in van hierdie aannames ’n baie groot uitwerking op die uitkoms kan hê.

P_01

Hieruit is daar ’n paar lesse te leer:

* Sonder ’n deeglike ontleding van jou batesamestelling (hoeveel is in kontant, aandele, eiendom, ensovoorts) kan jy nie ’n sinvolle vooruitskatting van opbrengs (in verhouding met ­inflasie) doen nie. Moenie lukrake groeisyfers van 10% of 15% of wat ook al gebruik nie.

* Die werklike datum van ­aftrede (met ander woorde tyd) het ’n enorme impak op die uitkoms, want onthou, vir elke jaar wat jy vroeër aftree, moet die geld een jaar langer hou.

Iemand wat dus vyf jaar ­vroeër as beplan aftree, loop na my mening ’n groot risiko dat hy sy eie beplanning gaan kelder. Soms is dit egter buite jou beheer en móét jy wesenlik vroeër as beplan ophou werk.

Die ideaal is dus om nie jou beplan­ning te fyn te sny nie, maar om voor normale aftree-ouderdom reeds finansieel vry te wees en/of om jou lewe so in te rig dat jy moontlik tot ’n latere ouderdom ekonomies aktief kan bly.

Maak seker die aanname oor totale eskalasie op jou maandelikse premies is in pas met wat werklik die geval is, maar ook dat dit volhoubaar is. As jy byvoorbeeld nou maandeliks geld wegsit en die premie-eskalasie daarop is 15% per jaar, is daar ’n goeie kans dat dit nie volhoubaar is nie.

Hoe jonger jy is (en dus hoe meer tyd jy het) hoe groter is die rol van die werklike groeikoers wat jy op jou beleggings behaal. Maak seker dat jy ’n toepaslike risiko loop vir die lewens­fase waarin jy is om jou langtermynopbrengs te maksimaliseer. Wanneer jy in finansiële produkte belê, speel koste natuurlik ook ’n groot rol in watter totale groeikoers jy gaan behaal. Wees dus sensitief hiervoor.

Inflasie is een van ons grootste bekommernisse. Die meeste mense is geneig om die amptelike inflasiekoers van ­sowat 6% in hul beplanning te gebruik.

Ons eie navorsing by ProVérte wys oor die laaste paar jaar is al ons kliënte se gemiddelde inflasiekoers wesenlik hoër as 6%. In so ’n geval sal jou somme eenvoudig nie uitwerk nie.

Baie belangrik: As jy naby aan aftrede is en jou somme klop nie, het dit nie sin om groter risiko’s te loop om ’n groter opbrengs te probeer kry nie. Tyd is dan jou grootste vriend, nie opbrengs nie.

Probeer dus om ’n tweede ­beroep te kry waar jy steeds vir ’n paar jaar ’n inkomste kan ­genereer, eerder as om v­ir slimpraatjies van hoë opbrengste te val.

Ten slotte, wanneer jou vooruitskattings nie rooskleuring lyk nie, is daar baie planne wat nog gemaak kan word omdat langtermynbeplanning so sen­sitief is vir klein veranderings. Verstaan my reg, soms móét jy eenvoudig meer spaar, maar dikwels kan die probleem ook uit ’n ander hoek opgelos word.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.