’n Boer maak ’n plan – ook vir ná sy aftrede of dood

Deur Andró Griessel, 28 Mei 2016

Een area van finansiële beplanning wat my al baie lank pla, is die erfopvolging (wat dikwels voor afsterwe al plaasvind) van boerderybates.

Die antwoorde is eenvoudig nie voor die hand liggend nie, maar die goed wat onder meer pla, is:

* Die feit dat sommige pa’s te lank vashou aan beheer. “Seuns” van 50 is dikwels nog nie in beheer van die tjekboek of wesenlike besluitneming nie en verdien self dikwels ’n karige loon.

* Waar daar nie apart voorsiening gemaak is vir aftrede nie, moet die seun dikwels dielewenskoste van die ouers dra tot hul afsterwe. In gevalle waar die seun die plaas sonder ’n teenprestasie bekom het, is dit seer sekerlik ’n minimum wat te wagte kan wees, maar hierdie feit word dikwels ná ’n paar jaar “vergeet”, wat tot spanning tussen geslagte lei.

* Dit is ongemaklik om eensklaps die ouer-kind-rolle om te ruil en ook waarom die eerste punt hierbo so gereeld manifesteer. Dit gebeur ook dikwels dat daar drie generasies gelyktydig op die plaas is, wat groot druk op die kontantvloei kan plaas met gevolglike verhoudingsprobleme.

Ek dink jy loop ’n geweldige risiko om jou aftrede aan die plaas se voortbestaan te koppel. Wat gebeur met jou inkomste as die boerdery ondergaan?

Ongelyke verdeling

My ervaring is dat dit in die meeste gevalle finansieel onmoontlik is om ’n gelyke verdeling te verkry waar daar een plaas maar byvoorbeeld vier kinders is. Die “maklike” oplossing, wat uiteraard die goedkeuring van die verkopers daarvan sal wegdra, is ’n massiewe lewenspolis wat eendag aan die ander kinders uitbetaal.

EK DINK JY LOOP ’N GEWELDIGE RISIKO OM JOU AFTREDE AAN DIE PLAAS SE VOORTBESTAAN TE KOPPEL. WAT GEBEUR MET JOU INKOMSTE AS DIE BOERDERY ONDERGAAN?

Selfs al aanvaar ons dat die boerdery hierdie premies kan volhou (wat dikwels ’n uitdaging is), is daar ’n paar ongemaklike realiteite.

Eerstens, die erfgename van die polis sal in sommige gevalle 20 jaar of langer moet wag voordat hulle die opbrengs daarvan ontvang, terwyl die een wat die grond kry, van dag een af hierdie bate kan gebruik vir leefstyluitgawes en welvaartgenerering.

Tweedens, selfs al sou die polisse op dag een gelyk wees aan die waarde van die plaas, kan die waarde van die polisse wanneer dit die dag wel realiseer wesenlik minder wees as die waarde van die grond.

Derdens moet in gedagte gehou word dat die polisse boedelbelasting sal aantrek wat betaalbaar sal wees deur die begunstigde van die polis, behalwe indien anders bepaal deur die testament.

Aan die ander kant, al was dit moontlik, sou dit regverdig wees om wanneer bates aan die volgende geslag oorgedra word, die plaas aan een na te laat terwyl die ander gelykstaande kontant of likiede bates kry?

Die persoon wat kom boer, kry grootliks ’n werk (nie werksekerheid nie), ’n spesifieke lewenstyl en ’n klomp verantwoordelikhede.

In die meeste gevalle word dit as regverdiging gebruik waarom die bemakings (in versekering of fisieke bates) aan die kinders wat nie kom boer nie, aansienlik minder kan wees. Hoe gemaak egter as die seun wat die plaas geërf het vyf jaar ná Pa se afsterwe die plaas verkoop vir vyf, ses of tien keer wat die ander kinders gekry het?

Ek kan aangaan met hierdie lys, maar vermoed ’n klomp mense wat hul eie situasie hierin raaklees, raak moontlik al warm onder die kraag. Die bedoeling is nie om iemand na sy bloeddrukpille te laat gryp nie, maar om die denke te stimuleer.

In my ervaring is gebrekkige beplanning baie moeilik om ná die tyd reg te stel. As ’n soortgelyke situasie jou pla of raak, stel ek voor dat jy vroeër eerder as later om ’n tafel gaan sit met die betrokke partye.

Kopskuif

Ek meen ’n redelike kopskuif is nodig ten opsigte van grond en boerdery wanneer dit kom by die oorhandiging aan die volgende geslag.

Ek meen ’n boerdery behoort soos enige ander onderneming bedryf te word, nie net wat die dag-tot-dag-bestuur betref nie, maar ook hoe dit gehanteer word ten opsigte van “oordrag” aan die volgende generasie.

As jy die een is wat gaan boer en nou jou kop skud en sê aikôna, jy gaan nie kapitaal en moeite in die grond stoot om jou susters ryk te maak nie, laat ek jou uitdaag om anders hierna te kyk.

IN MY ERVARING IS GEBREKKIGE BEPLANNING BAIE MOEILIK OM NÁ DIE TYD REG TE STEL.

Ek sou verbaas wees as die ­eienaar van ’n suksesvolle sakeonderneming eenvoudig sy aandele in die saak “gee” of testamentêr bemaak aan ’n kind wat by die onderneming betrokke is, terwyl hy lewenspolisse uitneem vir sy kinders wat nie daarby betrokke is nie.

’n Seun wat sy pa opvolg in byvoorbeeld ’n genoteerde onderneming, kry nie die werk bloot op grond van die feit dat hy die oudste seun is nie, maar omdat hy ’n belangstelling daarin getoon het en homself dienooreenkomstig bekwaam en bewys het.

Wanneer die direksie dan moet besluite neem oor die toewysing van kapitaal, sal dit juis tot voordeel van ál die aandeelhouers (lees familie in jou situasie) wees en nie uit ’n oogpunt van “ek gaan hulle nie ryk werk nie”.

Nie appels met appels nie, sê jy? Dit is miskien so, maar ek wonder of die benadering by wat vandag groot ondernemings is, anders was toe hulle nog in hul babaskoene was.

’n Vriend van my, wat nogal ’n denker is en tans met hierdie einste kompleksiteite in die praktyk stoei, sê vir my: “Nee, ou maat, dit is nie so maklik nie.”

Ek aanvaar dit onomwonde, maar sal tog graag ’n glas rooi saam met hom wil drink om hierdie ding verder te debatteer.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.