Sal jy kan bly staan as leeu op jou afstorm?

Deur Andró Griessel, 19 Maart 2016

Hulle sê as ’n leeu op jou afstorm, moet jy net stilstaan en jouself “groot maak”.

Behalwe as “groot maak” hier ’n kodewoord vir “vuil maak” is, verstaan ek nie hoe ’n mens hierdie in die praktyk regkry nie.

Dis hoekom jou kanse op ’n positiewe uitkoms skraal is in só ’n situasie.

Waardebelegging is soortgelyk daaraan om op ’n gereelde basis met ’n leeu gekonfronteer te word. As jy in hierdie spasie wil belê, beter jy baie geduld, ’n grondige kennis van beleggersgedrag of hope vertroue in die fondsbestuurder en/of jou adviseur te hê, anders kan ek jou amper verseker dat hierdie ook nie vir jou ’n goeie uitkoms gaan oplewer nie.

Voordat ek kom by hoekom dit so moeilik is om ’n goeie uitkoms te bewerkstellig uit ’n strategie wat so maklik klínk (naamlik om eenvoudig onderwaardeerde bates te koop) sal dit goed wees om ons te vergewis of dit enigsins die sielkundige foltering werd is.

Kyk na die grafiek van die Investec Value-fonds ná fondsbestuursgelde oor die afgelope 18 jaar teenoor die JSE se indeks van alle aandele (dividende ingesluit).

Die grafiek vertoon minder wisselvallig as wat werklik die geval is omdat jaarlikse (in plaas van daaglikse) datapunte gebruik is.

As jy op 11 Maart 1998 R100 000 belê het in die Investec Value-fonds en dit 18 jaar lank gehou het tot 11 Maart vanjaar, sou jou belegging se waarde nou op R2 094 500 gestaan het teenoor R1 395 208 as jy dit bloot in die indeks van alle aandele belê het.

Vir die ekstra 50% behoort die meeste leeukykers bereid te wees om van die voertuig af te klim en ’n paar treë nader te gee. Voordat dit egter vir jou na ’n goeie plan klink, neem die volgende in ag:

  • Waardebestuurders sal gereeld in hul bemarkingsmate­riaal skryf dat hierdie tipe beleggingstyl minder riskant is as ander. Dit is omdat hulle fundamenteel na bates kyk en dus baie ontledings doen oor wat die intrinsieke waarde van ’n aandeel is voordat hulle hom sal insluit in die portefeulje.

Dit is na my mening wel so, maar moet asseblief nie risiko met wisselvalligheid (korttermynstygings of -dalings in aandeelpryse) verwar nie.

Waardefondse is dikwels heelwat meer wisselvallig as die algemene mark.

  • As jy eerder in ’n groep as op jou eie na leeus kyk omdat jy in wese ’n kuddedier is (soos die meeste van ons maar is) is waardebelegging dalk nie vir jou nie.

P_06

Die emosionele hoogte- en laagtepunte wat jy sal ervaar tydens ’n belegging in hierdie soort fondse is dalk net te veel om te hanteer.

Oor die lukrake tydperk van 18 jaar waaroor ek vir die grafiek die prestasie vergelyk het met die JSE, was die gemiddelde jaarlikse verskil met die JSE +17% in die jare wat die waardebelegging beter as die JSE gepresteer het en -14% in die jare wat die waardebelegging swakker gevaar het.

Die grootste positiewe afwyking was 52% oor ’n jaartydperk en die grootste negatiewe afwyking -26%.

Hierdie soort afwykings veroorsaak dat jy soms baie slim lyk by braaivleisvuurpraatjies en soms baie jammer gekry gaan word. Jy moet dus gemaklik daaroor voel om soos ’n seer vinger uit te staan.

Neem in ag dat ek nie gaan soek het vir die grootste afwykings nie, maar bloot van
11 Maart af jaarliks teruggewerk het. Die variasies kan dus by tye heelwat groter wees as hierbo.

  • Hoewel die meeste beleggers in ’n fonds soos hierdie hulself langtermynbeleggers sal noem, is my ondervinding dat baie min mensese lang termyn langer as twee jaar strek wanneer beleggings onderpresteer. In ’n fonds soos hierdie gaan jy ongetwyfeld gereeld gekonfronteer word met twee jaar of langer periodes van wesenlike onderprestasie.

As jy dan nie vertroue het in jou toergids wat sê jy moet stilstaan en niks doen nie en jy hardloop, kan jy meer as net jou broek verloor.

Die laaste paar jaar (tot relatief onlangs) sou jy eerder erken jy doen sake met die Guptas as om te sê jy dink waardebelegging is ’n sinvolle beleggingstrategie.

Ek self is ’n aanhanger van waardebelegging, bloot omdat my linkerbrein hou van die gedagte dat jy jou risiko van geld verloor kan verlaag deur iets teen ’n groot afslag te koop terwyl jou potensiële opbrengs heelwat hoër is op iets wat jy teen ’n groot diskonto aangeskaf het.

Dit is egter ironies dat hierdie beleggingstyl se sukses daarin lê dat dit kan munt slaan uit menslike irrasionaliteit (gewoonlik oorreaksie van die mark ten opsigte van slegte nuus), maar dat dit juis hierdie geneigdheid tot irrasionele gedrag van beleggers self is wat hulle op die mees ongeleë tye laat toetree en uittree uit hierdie soort fondse.

’n Laaste gedagte miskien oor die “diepwaardebeleggings” van iemand wat die rol van bewaarder van mense se kapitaal moet vervul en elke jaar ’n gesprek oor prestasie met die kliënt moet hê: Daar word dikwels in waardebestuurkringe gepraat oor die beskerming van kapitaal teen permanente kapitaalverlies en hoe dit die eerste prioriteit is.

  • Hou in gedagte dat al is jou langtermynprestasiegeskiedenis hoe goed, as jou fonds te lang en te diep periodes van onderprestasie deurgaan (die ekwivalent van ’n stormende leeu), is daar ’n wesenlike kans dat die belegger (leeukyker) se moed hom gaan begewe en hy die hasepad gaan kies op die mees ongeleë tyd. Wanneer dít gebeur, het jy gefaal in jou mandaat om welvaart vir jou kliënte te skep.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.