Versekering is nie ’n belegging nie

Deur Andró Griessel, 16 April 2016

Verlede week vergader ek en mnr. X om te gesels oor sy lewensdekking en of dit sinvol is om dit te hou.

Hy is 65 jaar oud, gesond en finansieel in staat om in hierdie stadium nog gemaklik die premies by te bring. Die lewensdekking vorm egter nie meer ’n noodsaaklike deel van sy beplanning nie en dit word nou bloot beskou as ’n “belegging” vir die nageslag.

Sy kinders is ook in die posisie om die premies oor te neem indien nodig, want seer sekerlik het dit nie sin om nóú die premies te staak nie?

Voordat ons laasgenoemde vraag probeer beantwoord, laat ons sommer net hier die handrem optrek!

Lewensversekering is net so min ’n belegging as wat dit ’n belegging is om by die casino in te stap en ’n klomp geld op rooi te sit.

Lewensversekering kan ’n baie goeie opbrengs op aangewende kapitaal teweeg bring (met die onaangename voorwaarde dat jy moet vroeg sterf), maar die uitkoms is geheel en al buite jou hande en jy kan potensieel alles verloor.

Noem my maar ’n bleeksiel, maar sonder behoorlike somme kan jy nie behoorlike besluite neem nie. My voorstel was dus dat ons ons sompompiesstet sy woord vir ‘n sakrekenaar uithaal, kyk wat dit vir ons sê en dan probeer om ’n sinvolle besluit te neem met inagneming dat ons nie die toekoms kan voorspel nie.

Terug by die polis: Hierdie is een van daardie polisse waar die premie vinnig eskaleer. Bo en behalwe die jaarlikse eskalasie van 11,1% (wat stelselmatig sal styg tot 12% per jaar) styg die polispremie elke tien jaar met ’n ekstra 20%.

Die dekking eskaleer deurgaans met 3% per jaar.

P_07

Met hierdie inligting kan jy dus gaan projekteer wat met die premies gaan gebeur en hoe lank jy moet leef vir ’n alternatiewe belegging om dieselfde of ’n beter opbrengs op te lewer as die lewenspolis.

Uiteraard moet jy ’n aanname oor die groei van die belegging maak. Ek het 14% op ’n gewone aandelegebaseerde effektetrust of aandeleportefeulje geneem sowel as ’n alternatiewe strategie waar ons van hefboomfinansiering gebruik gemaak het en hierdie drie verskillende strategieë vergelyk. Sien die grafiese voorstelling hierby.

Die rooi lyn verteenwoordig die “waarde” vir die familie indien die lewenspolis steeds bestaan wanneer mnr. X te sterwe kom. Die blou lyn verteenwoordig die waarde van die belegging in effektetrust/aandele (teen 14%-groei) indien mnr. X van volgende maand af dieselfde premies belê en die groen lyn verteenwoordig ’n belegging waar ons van hefboomfinansiering gebruik maak om vinniger kapitaal te bou. Laasgenoemde dra uiteraard meer risiko, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel om in groot besonderhede hierop in te gaan.

DIT GEBEUR ONGELUKKIG NET TE VEEL DAT DIE VERSEKERDE LEWE NIE GENOEG VOORSIENING GEMAAK HET VIR AFTREDE NIE.

Ander punte om in ag te neem wanneer jy ’n soortgelyke probleem beoordeel:

  • As die persoon sou sterf binne drie tot vyf jaar nadat jy die alternatiewe strategie in werking gestel het, sou jy terugkyk na jou besluit om die lewensdekking te staak en dalk, verkeerdelik, aflei dat jou besluit verkeerd was. Moet nooit ’n ongewenste uitkoms met ’n verkeerde besluit verwar nie.
  • Omdat jy maandeliks belê en omdat risiko-profiel nie ’n rol behoort te speel nie, kan jy met ’n redelike mate van gemak in genoteerde groeibates belê, waar 14% (inflasie + 8 persentasiepunte) haalbaar behoort te wees oor enige sinvolle metingsperiode (sewe jaar of langer).
  • In hierdie geval hoef mnr. X net tot onderskeidelik 81 jaar en 76 jaar te leef (nie te veel gevra vir iemand met sy profiel nie) vir die twee alternatiewe strategieë om ’n beter opsie te wees as die versekering.
  • As mnr. X in enige stadium in die toekoms sy lewensdekkingspremies staak vir welke rede ook al, sal daar géén teenprestasie wees nie. In die beleggings sal hy alles wat hy van nou af insit, plus die groei daarop, hê.
  • Wat die grafiek nie wys nie is dat as mnr. X eers op 90 sterf en ons aanvaar hy het die premies tot dan aanhou betaal, sal die versekeringspolis R22,6 miljoen uitbetaal, die gewone belegging sou R93,5 miljoen oplewer het en die hefboombelegging R124,7 miljoen. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar dit is nie moeilik om te sien watter uitkoms die nageslag sou kies nie.
  • Verreweg die belangrikste punt is egter die volgende: Uit ’n kontantvloeioogpunt sal die versekeringstrategie vs. beleggingstrategie ’n massiewe afwyking van lewenstandaard tot gevolg hê, want selfs so vroeg as op 75-jarige ouderdom sal die polis die kliënt R38 783/maand kos (dus maandelikse uitvloei), terwyl met die beleggingstrategieë is die potensiële inkomste (as mnr. X ophou bydra en van die opgehoopte geld begin leef) onderskeidelik R45 391/maand en R136 404 maand (invloei) as hy 10% van die kapitaal begin onttrek.
  • Ten slotte, ek is nie ’n voorstander van lewensversekering ná aftrede nie (daar is wel uitsonderings).

Dit gebeur ongelukkig net te veel dat die versekerde lewe nie genoeg voorsiening gemaak het vir aftrede nie en dan na sy lewensversekering kyk as ’n “uitweg” vir sy oorlewende familie. Wanneer dit gebeur, verteenwoordig dit die toppunt van ’n mislukte finansiële plan.

Indien jy dus een van hierdie polisse het of die premies daarop betaal, doen die nodige somme en maak seker die potensiële opbrengskoers is die risiko (dat jy die premies vir nog baie lank gaan moet betaal en moontlik nie kan volhou nie) werd.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.