Vir hoeveel moet jy jou lewe verseker?

Deur Andró Griessel, 20 Februarie 2016

As jy skuld, ’n vrou en/of minderjarige kinders of ’n kat met duur eetgewoontes het, het jy waarskynlik lewensversekering. Die kans dat jy in hierdie stadium dink jy gaan hierdie versekering hê totdat dit eendag gaan uitbetaal, is waarskynlik ook goed.

Glo my ook gewis dat al dink jy nie nou so nie, wanneer jy jou eerste groot teenspoed met jou gesondheid gehad het, begin jy ewe skielik om na jou lewensversekering as ’n bate te kyk in plaas van ’n ongewensde maandelikse uitgawe.

Wat my egter pla, is dat ek baie min kliënte teëkom wat ná 70 nog hul lewensversekering het. Die enkeles wat wel nog hul lewensversekering gereed het, kreun gewoonlik onder die premies (indien die dekking sinvolle bedrae is) of, weens dekking wat nie gestyg het nie, het net genoeg dekking gereed om vir ’n begrafnis met ’n band te betaal.

Hierdie verskynsel het ons hard en lank laat dink oor hoe sinvol die tradisionele benadering tot lewensversekering is. Dit lyk eenvoudig of die siening dat jy lewensdekking gaan hê tot die dood in die meeste gevalle nie korrek is nie.

Omdat die waarskynlikheid dat jy wel aftreeouderdom gaan bereik en ’n hele paar jaar daarna nog gaan leef steeds heelwat groter is as die waarskynlikheid dat jy vroeg sterf, laat vaar baie mense hul dekking in hul 60’s omdat die premies eenvoudig ’n probleem begin raak in verhouding tot wat hul na-aftrede-inkomste kan bekostig om te betaal.

Ek kan verkeerd wees, maar vir my verteenwoordig iemand wat gedink het hy gaan lewensversekering hê wat eendag aan sy gesin gaan uitbetaal en dit dan laat in sy lewe stop, ’n mislukte plan.

So hoekom gebeur dit? Die gebrek aan genoegsame voorsiening vir aftrede is ’n groot deel van die antwoord, maar ’n ander groot stuk van die legkaart dink ek lê opgesluit in die tempo waarteen jou lewensversekeringspremies elke jaar toeneem in verhouding tot waarmee jou salaris toeneem.

Sien die tabel hieronder. Gestel Koos is vandag 43 jaar oud en sy lewensversekering kos hom R2 000 per maand. Gestel verder dit maak 5% van sy huidige netto salaris uit.

As Koos weet waarmee sy lewenspremie elke jaar styg, kan hierdie tabel hom help om uit te werk of sy plan enigsins uitvoerbaar is. Vir die doel van eenvoudigheid het ek aanvaar Koos se gemiddelde verhoging in sy inkomste nou (en ná aftrede) sal jaarliks 7% wees.

Die tabel dui dan die faktor aan waarmee sy lewensversekering sal styg in verhouding tot sy inkomste.

P_08

As ons dan na die twee groen scenario’s gaan kyk, sien ons die volgende:

  1. Indien Koos se premie met 9% per jaar styg en hy leef nog 55 jaar (tot 98) dan sal sy premie ’n 2,8-keer-groter verhouding van sy totale inkomste uitmaak. In hierdie geval sal hy dus 5% x 2,8 = 14% van sy netto inkomste maandeliks aan lewensversekering moet bestee. Dit is moontlik volhoubaar.
  2. Indien Koos se premie met 15% per jaar styg en hy nog 45 jaar (tot 88) leef, sal sy premie ’n faktor van 25,7 keer wees van wat dit tans is – of 5% x 25,7 = 128,5% van sy netto inkomste. Oeps!

Hou ook in gedagte dat ek aangeneem het daar is geen daling in Koos se inkomste ná aftrede nie. Dit is nie baie realisties nie, aangesien baie min mense met 100% van hulle laaste salaris kan aftree.

Koos se situasie sal in die praktyk dus eintlik slegter wees as wat die tabel hierbo aandui.

Doen jouself die guns en gaan doen die volgende oefening om seker te maak jou plan rondom jou lewensversekering is uitvoerbaar:

  1. Gaan kyk op jou polisdokumente met hoeveel styg jou premie jaarliks. Hou in gedagte dat sekere premiepatrone nie in ’n reguit lyn styg nie, maar dat dit ’n toenemende premiestyging het.
  2. Gaan werk uit watter persentasie van jou totale netto inkomste dit tans uitmaak.
  3. Neem die hoeveelheid jaar wat jy oor het tot en met aftrede en lees af met watter faktor jy dit moet vermenigvuldig om jou “relatiewe” premie by aftrede te kry. Neem in ag dat indien jou inkomste heelwat vinniger styg as 7% per jaar die faktor heelwat laer sal wees.
  4. As ek in ag neem dat mediesefondspremies ook vinniger styg as die meeste mense se salarisse, wil ek my verstout om te sê dat as jou lewenspremies meer as 10% van jou totale inkomste by aftrede gaan behels, daar ’n baie hoë waarskynlikheid is dat jy nie hierdie premies enduit gaan kan volhou nie.
  5. Indien die premie by aftrede wel minder as 10% is, probeer ’n beraming maak wat jou optimistiese lewensverwagting is en herhaal stap 4.

Let wel: Ons is van mening dat daar ’n baie groot saak uit te maak is daarvoor om dekking as tydelik te sien en jou plan daarvolgens in te rig, maar meer daaroor op ’n ander dag.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management.