Brexit: Reageer op eie risiko

Deur Andró Griessel, 25 June 2016

In beleggings is daar ’n ­konsep bekend as die “gedragsgaping” (behaviour gap in Engels).

Die gedragsgaping waarna ek hier verwys, is nie die verskil tussen wat jou vrou verwag het jy alles Saterdag in en om die huis moes vermag en wat jy werklik vermag het nie, maar wel die gaping tussen wat jou opbrengs uit ’n belegging behoort te wees gegewe die hoeveelheid risiko wat jy loop en waarin jy belê teenoor wat jy werklik as ’n opbrengs oor tyd behaal het.

As ons beleggers in aksie sien en na die statistiese data kyk, waarvan daar heelwat uit die VSA beskikbaar is, raak dit duidelik wat met gedragstraf (behaviour penalty) bedoel word.

Weens die meeste beleggers se emosionele of irrasionele reaksies op gebeure in die finansiële markte is hul werklike opbrengs uit hul beleggings beduidend laer as wat dit sou gewees het as hulle eenvoudig niks gedoen het nie en die belegging van begin tot einde net gehou het.

So, hoe erg is hierdie probleem?

Wel, volgens ’n studie wat jaarliks bygehou word deur Dalbar, ’n navorsingsmaatskappy wat spesialiseer in finansiële dienste, is die gaping in die Amerikaanse mark oor die 20 jaar van 1991 tot 2010 ’n massiewe 60% van die totale opbrengs. (Sien grafika.)

Graph

Die spesifieke ontleding is al ’n paar jaar oud, maar onlangse studies het die verskynsel bevestig.

Nou dink jy dalk by jouself, ja, maar wat verwag jy van ’n nasie wat aan tieners semi-outomatiese aanvalsgewere verkoop en Donald Trump ernstig oorweeg as hul president?

“Seer sekerlik lyk Suid-Afrika se statistieke baie beter?”

Ongelukkig het ek nog nie ’n soortgelyke studie vir Suid-Afrika gesien nie, maar ek sal nogal verbaas wees as dit wesenlik anders lyk.

Jy kan maar net terugdink aan hoe almal plaaslike aandele gelos het vir buitelandse aan­dele met die wisseling van die millennium (natuurlik gegrond op historiese prestasie) en toe vir die volgende dekade geen geld gemaak het nie, net om weer buitelandse aandele teen 2010 eenkant toe te skuif vir plaas­like aandele en dieselfde fout te herhaal.

Net om te probeer verstaan hoe so ’n gedragsgaping jou werklike opbrengs kan beïnvloed, kom ons kyk na die uitkoms van ’n belegger oor die afgelope 15 jaar indien hy in 2000 sou begin met ’n R100 000-belegging en drie verskillende benaderings sou volg.

Belegger A belê in die JSE se indeks van alle aandele en verander nooit aan sy belegging nie: R977 630.

Belegger B belê in die MSCI-Wêreldindeks en verander nooit aan sy belegging nie: R298 220

Belegger C belê aanvanklik in die MSCI en ná 10 jaar laat vaar hy dit en belê in die JSE se indeks van alle aandele: R216 401.

Breek ek hier ’n lansie vir passiewe of indeksbeleggings? Hier gaan dit nie oor aktiewe fondsbestuur teenoor passiewe fondsbestuur nie.

Ek beveel ook nie ’n koop-en-hou-strategie bo ’n aktiewe batetoewysingstrategie aan nie.

Wat vir jou as belegger van deurslaggewende belang is, is om na jou eie of jou raadgewer (indien jy een gebruik) se aktiewe gedrag te gaan kyk (indien julle wel aktief is) en te beoordeel of dit waarde toevoeg of vernietig.

Uit bogenoemde voorbeeld lyk dit asof ’n koop-en-vergeet-strategie die beste roete sou wees. Wanneer daar nie beheer oor emosies en gedrag is nie, sou ek saamstem.

Jy is veel beter af deur eenvoudig ’n indeks te koop en te hou as om kort-kort reaktiewe skuiwe te maak gegrond op emosies.

Daar is egter ook potensieel ’n Belegger D wat verstaan bates gaan deur verskillende waardasiesiklusse en soms is sekere bates baie duur en soms is hulle baie goedkoop, en hy pas sy batetoewysing daarvolgens aan.

Let wel, hierdie benadering behels ’n ontledende en beredeneerde proses en nie ’n emosionele reaksie nie.

Dié soort belegger koop normaalweg wanneer almal hardloop vir die deur en hy hardloop vir die deur wanneer almal koop.

Hoe sou belegger D in die voorbeeld hierbo gevaar het?

Belegger D belê 100% in die JSE se indeks van alle aandele, maar wysig sy batetoewysing na 100% in die MSCI-Wêreldindeks in 2010: R1 350 525

Verskoning aan die beleggingskundiges daar buite: Uiteraard sal jy baie selde 100% in en uit ’n bateklas beweeg bloot omdat dit ’n poging tot tydsberekening van die mark sal wees wat ons mos weet is baie moeilik om te doen.

Waardasiesiklusse maak egter saak wanneer oor toekomstige opbrengste gepraat word en enige voornemende belegger sal goed vaar om daarop ag te slaan.

Die beginsel dat twee beleggers wat soortgelyke risiko loop en van dieselfde beleggingsinstrumente gebruik maak oor dieselfde tydperk op twee sulke uiteenlopende plekke kan eindig (R1 350 525 teenoor R216 401), behels ’n waarskuwing aan alle beleggers dat hul gedrag (indien dit nie baie rasioneel is nie) ’n massiewe welvaart-vernietigende uitwerking kan hê.

In die volgende paar weke wil ek graag stilstaan by ’n paar kognitiewe slaggate waarin ons almal geneig is om te trap en wat in baie gevalle bydra tot hierdie gedragsgaping tussen wat ons behoort te verdien uit beleggings en wat ons werklik verdien.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.