Buitelandse beleggings: Dink nugter voor jy optree

Deur Andró Griessel, 19 Desember 2015

As jy nie nou besig is om al jou geld buiteland toe te skuif, aansoek te doen om emigrasie of jou teleskoop in te stel nie, is jy waarskynlik een van die meer kalm mense daar buite – of jy was die afgelope week of twee eenvoudig afgesny van enige nuus.

Ons agbare president het dit goedgedink om David (Des) van Rooyen (ek het eers gedag dit is daardie Van Rooyen wat altyd Sondae in Rapport geskryf het) aan te stel as finansminister vir ’n naweek! Ek het nooit gedink die dag sal aanbreek dat ons minister van finansies korter in die stoel is as ’n Bafana-Bafana-afrigter nie, maar hei . . . Afrika is nie vir sissies nie!

Almal wil natuurlik nou gesels oor buitelandse beleggings (waar was julle vyf jaar gelede toe ek daaroor wou praat?).

Volgens Bloomberg sien ons tans uitvloei teen die vinnigste tempo in die geskiedenis.

Selfs die heraanstelling van Pravin Gordhan kon nie die verliese wat die rand verlede Donderdag en Vrydag gely het, uitwis nie.

Die effens dieper denkers (en veral dié wat in 2001 al oor meer as hul aknee bekommerd was) vra egter nou tereg of hierdie skip (buitelandse beleggings) nie al geseil het nie.

Die emosionele antwoord is natuurlik: Nee, ons is op pad na R20 teenoor die dollar en hoe gouer jy jou geld uitkry hoe beter.

Voordat ons by ’n meer sinvolle en beredeneerde antwoord probeer uitkom, hier is ’n paar feite oor die rand-dollar-wisselkoers:

* In 1961 het dit 72c gekos om $1 te koop. Teen R15,27 (die wisselkoers ten tyde van skrywe) verteenwoordig dit ’n gemiddelde versterking van 5,82% per jaar van die dollar teenoor die rand.

* Van 1961 tot 1994 was die gemiddelde verswakking in die rand 4,8% per jaar. Sedert begin 1995 tot nou het die tempo versnel tot 7,39% per jaar.

* Van 1961 tot 1994 was die depresiasiekoers ’n faktor van ongeveer 111% van die inflasie-differensiaal tussen Suid-Afrika en Amerika. Van 1995 tot 2015 het dié faktor opgeskiet tot 207%.

* In die laaste jaar het die dollar met meer as 30% teenoor die rand versterk.

Dit was darem nie bloot ’n rand-probleem nie. Die meeste geldeenhede het teenoor die dollar verswak. As ons egter gaan kyk na die sogenaamde “Fragile Five” of die Vrot Vyf soos ek hulle noem – Suid-Afrika, Brasilië, Turkye, Indië en Indonesië – sien ons die rand kon slegs teenoor die Brasiliaanse reaal veld wen. Teenoor die geldeenhede van Indonesië (-19%), Indië (-22%) en twee van die ander probleemkinders, Colombia (-7%) en Mexiko (-9%), het die rand veld verloor.

Wat is ’n realistiese waarde vir die rand? Dit is enigiemand se raaiskoot, maar ek vermoed dit is iewers tussen die huidige vlak en R12,50.

Wat hou dit vir ons in wat betref ons besluite oor buitelandse beleggings?

Voordat ons by afleidings kom, wil ek net ’n paar punte uitlig om te help met die denkproses.

* Ons is glad nie in dieselfde bootjie as in 2001 nie. Volgens my berekeninge was die dollar toe meer as dubbel so sterk teenoor die rand as wat geregverdig was.

’n Ekwivalente situasie vandag sou ’n rand teen R25 per dollar wees.

* Op huidige vlakke lyk die rand egter swakker as wat hy behoort te wees en ’n 20%-versterking van die huidige vlakke af is nie onmoontlik nie.

* Albei die vorige twee skokke (2001 en 2008) was eksterne internasionale ekonomiese skokke. Die huidige verswakking is ’n ontluikende-markte-probleem en spesifiek dié met dubbele tekorte, soos die Vrot Vyf.

Suid-Afrika se politieke onstuimigheid en swak leierskap dra natuurlik by tot die vlug van kapitaal van buitelandse én binnelandse beleggers.

* Die afgradering van ons staatseffekte na rommelstatus in 2016 blyk nou ’n uitgemaakte saak te wees. Tensy Gordhan die spreekwoordelike haas uit die hoed kan ruk, sal so ’n afgradering verdere uitvloei tot gevolg hê, asook stygende rentebetalings wat die staat se finansies in verdere chaos gaan dompel. Hiervandaan kan dit baie vinnig in ’n selfverterende spiraal ontaard.

AS DIE AFGELOPE TWEE WEKE ENIGIETS GEWYS HET, IS DIT DAT DINGE ONVOORSPELBAAR IS.

So, hoe moet jy te werk gaan met jou beleggingstoewysing?

* Jou toewysing na die buiteland moet deel van ’n proses wees, nie die gevolg van emosionele reaksie nie. ’n Behoorlike portefeuljekonstruksieproses behoort die risiko van verskillende bateklasse op te weeg teenoor hul moontlike opbrengste, asook hul verwantskap met mekaar.

* As jy teen huidige vlakke geld uitneem, moet jy besef daar is ’n moontlikheid dat jy op kort termyn verliese kan ly. As jy dus geld uitneem, moet dit geld wees wat jy van plan is om lank buite te los of kán los.

* Waak teen absolute denke of te veel vertroue in jou of enigiemand anders se vermoë om die toekoms te voorspel.

As die afgelope twee weke enigiets gewys het, is dit dat dinge onvoorspelbaar is. As ’n (stort)kop of twee kan rol en vervang word met iemand bekwaam (of selfs net eerlik) kan jy ’n vinnige omdraai in die rand se waarde sien.

Bedank Gordhan oor ’n maand of drie omdat hy die druk nie meer kan verduur nie, praat ons weer van heeltemal ’n ander storie.

* Persoonlik is my uitkyk op Suid-Afrika se toekoms ongelukkig een van ’n halfleë glas. Die ekonomiese uitdagings lyk eenvoudig vir my te groot vir selfs ’n bekwame bestuurspan om dit die hoof te bied.

Ons tyd raak vinnig minder om sake reg te stel. Jy sou dus daarby kan baat vind om met ’n bekwame beleggingsadviseur te praat oor maniere om jou welvaart te beskerm teen potensieel moeilike omstandighede wat voorlê.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.