Die Pionier by die Karen Zoid Konsert

Deur Andró Griessel, 06 Augustus 2016

In die tweede van ’n  reeks artikels oor die denkfoute wat meebring dat mense geld verloor, kyk Andró Griessel na die kudde-instink. 

Hierdie is die tweede in ’n reeks artikels oor tipiese denkfoute waaraan ons almal skuldig is en wat veroorsaak dat ons dikwels minder optimale besluite neem.

Uiteraard stel ek belang in die denkfoute wat ons in ons geldsake en beleggings pootjie en veroorsaak dat ons geld verloor of nie die resultate behaal waarop ons gehoop het nie.

As ons hierdie denkfoute kan identifiseer en besef ons is geneig om hulle te maak, behoort ons beter besluite te kan neem.

Die sogenaamde kuddedier-instink is ’n baie sterk emosie wat tot oordeelsfoute kan lei. In ’n neutedop beteken dit mense meen hulle tree korrek op as hulle optrede met dié van ander ooreenstem.

Die samelewing is deurtrek hiervan, soms op heel onskuldige maniere, maar soms met tragiese gevolge. Mense sal dinge in ’n skare doen wat hulle nooit op hul eie sal doen nie.

Lees ook: Beleggings: Die groot gevaar van ‘jy moes…’

Ek het vroeër vanjaar na Karen Zoid op Porterville gaan kyk. Sy en Francois van Coke kap dit behoorlik uit, maar dit is helder oordag en almal sit en klap net ’n toon daar op sy eie strooibaal.

Daar stap toe een brawe siel (seer sekerlik met die hulp van iets wat nie brieke het nie) tot reg voor die verhoog en begin onbeskaamd dans in ’n styl wat as niks anders as ’n aanval van die een of ander aard beskou kan word nie. Hierdie ongemaklike insident speel hom vir ’n liedjie of twee af voordat sy moves nog twee mense inspireer om hulle by hom aan te sluit.

Voor jy jou oë uitvee, is daar 20 mense voor die verhoog en iewers, moet my nie vra wat die nommer is nie, is die kantelpunt waarna om voor die verhoog te staan en dans na ’n baie beter opsie lyk as om soos ’n droë drup daar op jou strooibaaltjie te sit.

Wat ons hier aanskou het, is die kuddedier-instink in aksie.

Verstaan my reg, ek beweer nie om voor die verhoog te dans is ’n oordeelsfout nie, inteendeel. Wat ek wel sê, is dat as jy dink jy het heeltemal op jou eie by jou keuse uitgekom, kan jy gerus weer dink. Jy (behalwe as jy daardie eerste drie ouens was) is beïnvloed deur die kudde.

SOGENAAMDE MARKBORRELS EN -INEEN-STORTINGS IS NIKS ANDERS AS HIERDIE KUDDEDIER-INSTINK IN AKSIE NIE.

Daar was ’n tyd, toe ons nog op die vlaktes rondgeswerf het en moes jag vir kos, toe die kuddedier-instink ons voorouers aan die lewe gehou het. As al jou makkers ewe skielik laat spaander het, was dit nie ’n goeie idee om eers te wag en kyk wat aangaan nie. Jy het ook laat spaander, of jy nou geweet het waaroor of nie.

Dié wat dit nie gedoen het nie, het vroeër eerder as later die geenpoel verlaat.

Die wyse en die dwaas

In vandag se lewe is daar beperkte geleenthede waar die blindelingse navolging van die kudde ’n oorlewingsvereiste of selfs ’n goeie idee is. In die finansiële markte wil ek my verstout om te sê dit is amper sonder uitsondering ’n slegte idee.

Sogenaamde markborrels en -ineenstortings is niks anders as hierdie kuddedier-instink in aksie nie.

Daar is ’n gesegde wat lui: “Wat die wyse man aan die begin doen, doen die dwaas aan die einde.”

Groeibates, of dit nou eiendom of aandele is, gaan deur siklusse en by tye raak dit geweldig gewild en derhalwe duur en by ander tye weer geweldig ongewild en derhalwe goedkoop.

Hoe meer algemeen die mening raak (gewild of ongewild), hoe sterker is die kuddedier-instink dat die siening of gedrag inderdaad die regte een is. Dit veroorsaak dan die eeue oue probleem van mense wat op die bopunt van ’n mark koop (dink eiendom 2006, aandele 2007) of op die onderste draaipunt verkoop (dink aandele begin 2009), en dis ’n probleem wat hom herhaaldelik manifesteer ongeag ’n arsenaal van artikels wat daarteen waarsku.

Soos die eerste paar mense by die Karen Zoid-konsert is daar altyd ’n paar pioniers wat in die ander rigting begin beweeg en wanneer hierdie groepie groot genoeg raak, is daar iewers ’n kantelpunt waar die voor die hand liggend regte optrede ewe skielik lyk na die voor die hand liggend verkeerde optrede en die hele siklus herhaal homself na die ander kant toe.

Moenie uitgevang word deur hierdie kognitiewe kortsluiting nie. Doen jou eie dinkwerk.

Wees baie skepties wanneer iets soos ’n uitgemaakte saak lyk en vra jouself af, as jy geen inset van ander mense gehad het nie of jy steeds dieselfde besluit sou neem.

Konsensus, anders as op die vlakte saam met die leeus, is ’n gevaarteken, nie ’n oorlewingsmeganisme nie. As almal saamstem dat dit nie beter of slegter kan gaan nie, is die teenoorgestelde waarskynlik om die draai.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en die besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.