‘Prys-anker’ kan jou geldboot laat dobber

Deur Andró Griessel 20 Augustus 2016

As ek twee groepe mense moet laat raai op watter ouderdom Albert Einstein dood is, en daar was ’n prys op die spel, sou ek met ’n groot mate van sekerheid die uitkoms kon manipuleer.

Hoe so? Deur gebruik te maak van ’n kognitiewe struikelblok bekend as “ankering” sal ek een van die twee groepe kan “aanmoedig” om ’n heelwat hoër skatting te gee as die werklike ouderdom van 76.

Vir dié van julle wat met groot groepe werk, probeer dit gerus.

Vir groep A vra jy: Dink julle Albert Einstein was ouer of jonger as 120 toe hy dood is?

Nou vra jy dat hulle moet raai hoe oud hy was en bereken die gemiddelde van almal se raaiskote.

Vir groep B vra jy: Dink julle Albert Einstein was ouer of jonger as 65 toe hy dood is?

Vra nou ook vir hierdie groep om te raai hoe oud hy was en bereken die gemiddelde van almal se raaiskote.

Wat jy behoort te vind, is dat groep A ’n heelwat hoër gemiddelde ouderdom raai as groep B, ongeag of hulle reg was met die eerste vraag. Die eerste vraag was bloot om ’n “anker” in hul gedagtes te plaas. Van hier af is die natuurlike proses wat ’n mens se brein volg een van opwaartse of afwaartse aanpassing vanaf hierdie anker.

Hoe ankers jou geldsake raak

So wat is die relevansie hiervan vir finansies?

BENADER GROOT FINANSIËLE BESLUITE ALTYD MET ’N LEË BLADSY. DOEN JOU EIE HUISWERK, MAAK JOU EIE SOMME.

Die relevansie is baie groter as wat ons besef. Ankers word elke dag wetens (deur slim bemarkers) en onwetens deur ons in ons brein geplant. Dit beïnvloed ons finansiële besluite en nege uit tien keer nie in ’n positiewe sin nie.

Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:

#1. Erf: Jy het in 2007 op die toppunt van die eiendomsborrel ’n erf gekoop. Jy het R1 miljoen vir die erf betaal, maar teen 2008 besef jy dit was ’n fout. Mense rondom jou verkoop al hul erwe vir R900 000 en R800 000 en jy dink hulle is van hul trollie af.

Jy gaan nie verkoop vir minder as R1 miljoen nie. Al is die werklike markwaarde van daardie eiendom nou R500 000, weier jy om dit te aanvaar. Jy behou hierdie erf (met sy maandelikse erfbelastings) agt jaar lank en verkoop dit dan uiteindelik vir R1 miljoen (in 2016).

#2. Aandele: Jy het ’n aandeel gekoop vir R10 per aandeel. Aanvanklik groei dit tot R15 per aandeel, maar ná ’n tyd begin dit daal en verhandel later teen R7 per aandeel. Jy weier om te verkoop onder R10 per aandeel (want dit is wat jy betaal het) en sal wag tot hy herstel.

Jy verkoop dan teen R10 (indien jy gelukkig genoeg is dat die aandeel nie waardeloos raak nie) terwyl die prys van R10 nie noodwendig op daardie tydstip of aan die begin ’n weerspieëling van die werklike waarde van die aandeel was nie.

#3. Huis: Die eiendomsagent wys vir julle huise. Die heel eerste huis wat sy vir julle wys, is wel die soort huis waarin julle belangstel, maar is geheel en al oorprys.

Die volgende huis wat sy vir julle wys, het soortgelyke eienskappe maar is wesenlik goedkoper. Wat is die kans dat hierdie tweede huis, wat waarskynlik steeds volgeprys is, ewe skielik soos ’n winskopie lyk?

#4. Afslag: Jou vrou koop ’n paar skoene van R4 000. Dit het aanvanklik R8 000 gekos, maar is op ’n 50%-uitverkoping. Sou sy R4 000 vir ’n paar skoene betaal het as daar nie die “anker” van R8 000 was wat impliseer dat hierdie die winskoop van die dekade is nie?

Ek dink jy kry die prentjie. As jy enigsins onder die illusie is dat ons by die prys van items uitkom uit vrye wil, dink gerus weer. Daar word bykans sonder uitsondering ’n anker geskep waarvandaan ons brein eenvoudig op- of afwaarts aanpassings probeer maak om by ’n sinvolle syfer uit te kom.

Begin met leë bladsy

Ek wil jou maan hierteen. Benader groot finansiële besluite altyd met ’n leë bladsy. Doen jou eie huiswerk, maak jou eie somme. Skryf die syfers neer en kyk dán eers na die prys.

Hier is ’n paar praktiese wenke ten opsigte van die voorbeelde hierbo genoem:

#1. Erf: As jy ’n erf koop met die uitsluitlike idee om dit later teen ’n wins te verkoop, is jy ’n spekulant en nie ’n belegger nie. As jy besef jy het ’n fout gemaak, verkoop en probeer weer. Die geleentheidskoste van wag totdat jy jou ankerprys kry, kan massief wees.

#2. Aandele: Die prys wat jy reeds vir ’n aandeel betaal het, is irrelevant in die beoordeling of jy dit moet behou al dan nie. Die waarde van daardie aandeel (of dit nou hoër of laer as die aankoopprys is) relatief tot die huidige prys behoort die hoofrol te speel.

#3. Huis: Vra vir die eiendomsagent om vir jou ’n sinopsis te gee van die drie of vier ­eiendomme wat sy van plan is om vir julle te gaan wys, maar sonder enige pryse.

Kies dan self die volgorde waarin julle die huise wil sien (sonder om te weet wat elkeen kos). As julle almal gesien het, rangskik van 1ste tot laaste keuse, skryf die prys wat julle bereid is om te betaal vir elkeen langsaan en vra dan eers wat die pryse is.

#4. Afslag: Bly liewer weg.

Ankers is gemaak om bote op hul plek te hou. As jy nie versigtig is nie, sal ankers ook jou finansiële boot geanker hou in die hawe en sal jy nêrens kom as jy nie die anker gelig kry nie.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en die besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Vrywaring: Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.