Moenie die vetgevoerde kalkoen word nie

Deur Andró Griessel 03 September 2016

Ek het eendag in ’n winkelsentrum in Pretoria R3 000 se velsorgprodukte gekoop.

Ek weet nie of dit die verkoopsvrou se Italiaanse aksent was, die feit dat sy my ouer geskat het as wat ek in daardie stadium was of die verniet-monster wat sy vir my gegee het wat my tot hierdie absurde gedrag gedryf het nie, maar daar was ek, met my sakke velprodukte wat ek voor my siel geweet het ek nooit gaan gebruik nie en teen ’n prys waarmee ek ’n klein gesinnetjie vir ’n maand sou kon voer.

As ek terugkyk na hierdie episode, was daar seker drie of vier verskillende kognitiewe struikelblokke waaroor my brein pens en pootjies neergeslaan het.

Ek wil vir oulaas in hierdie reeks stilstaan by nog drie breinflaters genaamd wederkerigheid (reciprocity), induksie (induction) en as jy waarskynlikhede ignoreer (neglect of probability). Al drie is van toepassing in jou alledaagse omgang met mense. As jy bewus is van die slaggate, kan dit jou moontlik baie geld, verdriet en ongewensde aankope spaar.

Wederkerigheid

Ons haat dit mos om in die skuld te wees by iemand. Mense (gewoonlik verkoopsmense) wat dié beginsel verstaan, gebruik dit lekker tot hul voordeel.

Dink maar aan die “gratis” vakansie wat die mense van Holiday Club vir jou gegee het, of die gratis stukkie kaas in die winkel of die ou wat jou saamnooi vir gholf by Pearl Valley (alle koste betaal), net om jou Maandag te bel met ’n versoek om met hom sake te doen.

Een wat baie gebruik word in die finansiëlebeplanningsbedryf, is die frase dat iemand ’n mening oor jou portefeulje sal uitspreek, met “geen verpligting” nie.

Die probleem met al die “gratis” aanbiedings is dat daar gewoonlik ’n alternatiewe motief agter die aanbieding skuil. Die oomblik dat jy iets verniet aanvaar het van iemand anders wat ’n monetêre waarde het (dikwels is dit net die ander persoon se tyd) begin jou brein vir jou sê jy is in die skuld by daardie persoon.

In so ’n geval raak dit baie moeilik om nee te sê wanneer daardie persoon dan vir jou vir ’n guns of ’n toegewing vra. 

  • Hoe om dit te vermy:

Onthou maar die ou gesegde dat daar nie iets soos ’n gratis maaltyd is nie. Wanneer iemand dus vir jou gratis werk wil verrig of jou nooi na iets wat normaalweg ’n klomp geld kos, maar dit is nou pasella, wees ekstra versigtig. ’n Verwagte teenprestasie, dikwels heelwat groter as die voordeel wat jy geniet het, is dikwels kort op die hakke.

Induksie

Die boer voer die kalkoen. Eers is die skugter voël huiwerig om die kos te aanvaar. Wat gaan hier aan, dink hy. Hierdie patroon herhaal hom vir ’n paar weke totdat die kalkoen se agterdog begin kwyn.

Ná ’n paar maande is die kalkoen vas oortuig die boer is lief vir hom en dat hulle beslis ’n spesiale band gesmee het. Heeltemal vol vertroue in die boer se goeie bedoelings is die kalkoen glad nie verbaas wanneer hy op Kersdag uit sy hok gehaal word nie.

Totdat die boer sy kop afkap.

Die vetvoertegniek is een wat die mense wat Ponzi-skemas bedryf, baie goed verstaan.

Aanvanklik is Piet baie skepties oor die opbrengste wat deur sy buurman verdien word. Ná ’n paar weke wat die tendens voortduur, waag Piet self ’n paar rand.

Ná nog ’n aantal weke waarin die opbrengste baie aantreklik is, voeg Piet die grootste gedeelte van sy opgehoopte welvaart by sy vinnig groeiende belegging.

Ná twee jaar is Piet vas oortuig enige agterdog wat hy aan die begin gehad het, was totaal onnodig en hy neem ’n verband op sy huis uit om ook dié geld hierin te belê. Totdat Kersdag aanbreek!

  • Hoe om dit te vermy:

Daar is al baie geskryf oor die onderwerp, maar die antwoord lê soos die meeste ander goed gewortel in goeie ou gesonde verstand.

Basiese wiskunde behoort die volhoubaarheid van eksponen­siële groei vinnig onder verdenking te plaas.

Waar die meeste mense die fout begaan, is om nie eens die implikasie van die groei te probeer verstaan nie.

As jy ’n stuk papier vat en dit telkens in die helfte vou – as dit fisiek moontlik was – hoe dik dink jy sal die papier gewees het as jy dit 50 keer gevou het?

As ek Rolf Dobelli in sy boek The Art of Thinking Clearly kan glo, is dit sowat 70 miljoen myl! Ek sou moontlik nog vir iemand geld gee wat beweer hulle kan dit doen, maar nie nadat die somme gemaak is nie.

Waarskynlikhede ignoreer

As mense is ons nie goed daarmee om te onderskei tussen die omvang/impak van ’n gebeurtenis en die waarskynlikheid dat dit wel sal plaasvind nie.

Dink gerus aan haai-aanvalle, lugrampe of terreuraanvalle.

Hierdie gebeurtenisse is so grotesk in ons brein dat ons ’n baie groter waarskynlikheid daaraan koppel as wat werklik die geval is en gevolglik heeltemal te veel klem daarop lê in ons besluitneming.

Hoeveel mense sou byvoorbeeld hul vakansieplanne na Frankryk verander het ná die onlangse gebeure daar?

Waar ’n mens hierdie in die finansiële wêreld dikwels sien, is wanneer dit kom by mense se besteding aan lewensversekering, ongeskiktheid en aftrede. Aftrede het die grootste waarskynlikheid van al drie, maar tog is mense die swakste daarop voorberei. Mense sal aansienlik meer geld bestee aan hul lewens- en ongeskiktheidsversekering, terwyl hulle hul aftreebeplanning heeltemal nalaat. Dit lei natuurlik heel dikwels tot ’n mislukte plan.

  • Hoe om dit te vermy:

Wanneer jy spesifiek aan risiko dink, probeer om nie waarskynlikheid buite rekening te laat nie. As die kans om in ’n haai-aanval te sterf 0,01% is, terwyl die kans om op pad fliek toe in ’n motorongeluk te sterf 1% is, gaan swem eerder. 🙂

Hiermee sluit ek die reeks oor kognitiewe flaters af. Daar is nog baie, so as jy belang stel om meer hieroor te leer, kan jy gerus na die volgende boeke gaan kyk.

  • The Art of Thinking Clearly– Rolf Dobelli
  • Thinking Fast and Slow– Daniel Kahneman
  • Predictably Irrational– Dan Ariely
  • Think Twice– Michael J. Mauboussin

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Vrywaring: Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.