Aandele: Voel jy ‘lucky, punk’?

Deur Andró Griessel

Van lekker lag kom lekker huil . . . partykeer.

Dit was September of Oktober 2000 en ek het pas by Investec begin werk.

Die aandeel op die lippe van almal in die gange was Dimen­sion Data (Didata).

Julle onthou mos nog hoe gek dit was? Almal was lus om hul werk te los en aandele te begin “speel” in die laat 1990’s, want al wat jy moes doen, was om IT-aandele te koop en alles is in die haak.

Toe ek uitvind dat Didata in die voorafgaande vier jaar en nege maande met gemiddeld 77% per jaar gegroei het – van R4,65 per aandeel tot R70 per aandeel – het ek al begin beplan waar ek eendag my seiljag gaan vasmeer wat ek sou koop met al die geld wat ek in die toekoms uit aan­dele sou maak.

As jy in daardie stadium by ’n braai erken het jy besit nie Didata-aandele nie of dat jou beleggings met ’n skamele 12% per jaar gegroei het in die vorige vyf jaar, kon jy netsowel jou koelsak net weer só in jou kattebak laai en huis toe gaan, want almal sou gedink het jy is ’n oningeligte moroon.

Min het ek egter geweet 20 September 2000 sou die hoogste vlak wees wat Didata ooit bereik het en dat die aandeel op 30 April 2003 (’n skamele 31 maande later) op R1,80 (97% ­laer) sou verhandel.

Iemand wat op 2 Januarie 1996 R100 000 se Didata-aandele gekoop het, se belegging het gaan draai op sowat R1,5 miljoen net om weer te daal tot minder as R39 000 in 2003.

Iemand wat die aandeel van begin tot einde gehou het, se gemiddelde opbrengskoers sou -12,27% per jaar vir daardie sewejaarperiode gewees het.

Wat is die relevansie van hierdie tragiese storie?

Wel, ek kom dikwels die verskynsel van “ekstrapolatitis” by beleggers tee. Dit is ’n “siekte” wat jou brein aantas en dit word geaktiveer deur ’n opvolgende sarsie van buitengewoon goeie opbrengste.

Die simptome manifesteer dan in die vorm van jou wat die goeie opbrengste van die onlangse verlede (en somtyds kan dit vier tot vyf jaar wees) ekstrapoleer ad infinitum in die toekoms in. Hoewel daar tans ’n hele paar voorbeelde hiervan is, is aandele wat ek nogal baie teëkom dié in die meegaande tabel (“Die verlede is nie die toekoms nie”).

06a62e8afa5b44f8bc86caf4265e80d9
Ek kry gereeld die vraag: Wat moet ek nou met hierdie aan­dele doen? Die verskuilde eintlike vraag is natuurlik: Gaan hierdie aandele verder styg of moet ek wins neem en hardloop? Die kort antwoord is: Ek het geen idee nie, maar daar is tog ’n paar beginsels wat in gedagte gehou moet word.

Sien in die tabel “Goeie maatskappye kan ook daal” wat al in die verlede met stellig hoëgehaltemaatskappye (met die uitsondering van Lonmin) se aandeelpryse gebeur het.

Net voordat hierdie aandele groot dalings ervaar het, het hulle periodes van sterk groei beleef. Sien gerus die gemiddelde opbrengste van hierdie aandele vir die vier jaar net voor die groot dalings. Let egter veral op hoe die een periode van daling (selde langer as 12 maande) die gemiddelde oor die volle periode vernietig.

Met die uitsondering van ­Anglo American en Lonmin was die groot dalings nie geredelik voorspelbaar nie. Sien ook in ­elke geval wat die waarde van ’n R1 miljoen-belegging was in jaar vier (net voor die daling) en ook daarna, en vra jou af of jy hiermee kan saamleef?

657e6ce3da3548efa1d06fd78fca6cc6

’n Paar belangrike punte om weg te neem uit bogenoemde, is die volgende:

* Ek probeer geensins ’n voorspelling maak oor wat met Naspers, PSG, Pioneer of enige ander maatskappy se aandeelprys gaan gebeur nie. Om hierdie prestasie te kan volhou, sal hierdie maatskappye egter moet voortgaan om hul verdienste in ’n baie hoë tempo te laat toeneem. Beleggers sal gemaklik daaroor moet bly om ’n premie vir hierdie maatskappye se aandele te betaal.

* Aandelekenners sê altyd “jy hoef nie geld terug te maak op dieselfde manier as wat jy dit verloor het nie”. Ek sou argumenteer dat die omgekeerde ook waar is.

* Op lang termyn kan aandelepryse nie jaar ná jaar vinniger groei as verdienste nie. Maak dus seker dat jy weet hoe hierdie verband tans lyk as jy ’n wesenlike blootstelling aan soortgelyke “wenners” het.

* Gaan kyk weer hoeveel hierdie spesifieke aandele van jou totale likiede beleggingsuitmaak en vra jou af of jy kan bekostig om 50% of meer daarvan prys te gee as dit wel sou gebeur.

* Korreksies gebeur vinnig. As jy probeer om die golf te ry, beter jy ’n stop-verlies-opdraghê en gereeld na die pryse kyk.

* Dit verg 100% groei om ’n 50%-verlies uit te wis.

Ten slotte kan ek nie help om aan Clint Eastwood se legendariese frase uit Dirty Harry te dink nie: “You’ve got to ask ­yourself one question. Do I feel ­lucky? Well, do ya, punk?”

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Pro­Vérte Wealth & Risk Management. Volg hom gerus op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.