Belê soos ‘n All Black

Deur Andró Griessel 15 Oktober 2016

Partykeer skrik ‘n mens wakker en dink by jouself “hoe de hel het ek hier opgeeindig”? Ek dink baie van die Springbokke en hulle ondersteuners het Sondag-oggend met hierdie gevoel wakker geskrik na die vernederende nederlaag van 57-15 teen die All Blacks. Dit is dan ook bloot menslik om die fout in die onlangse verlede te begin soek en jy kan maklik in die slaggat trap om te dink dit is met die huidige span of die afgrigter waar daar ‘n groot skroef los is. Ek wil argumenteer dat rugby soos meeste ander dinge in die lewe is….jy eindig dikwels ver van koers af op weens konstante klein afwykings van die plan wat oor ‘n lang periode volhard. Die Bokke se probleme het waarskynlik 10 – 20 jaar gelede al begin en waarmee ons vandag sit is bloot ‘n gevolg van ‘n stelselmatige inkrimentele agterstand wat ons op ‘n punt uitgebring het waar jy eenvoudig nie meer in die posisie is waarin jy moes wees nie.

Beleggings vir aftrede is gelukkig of ongelukkig baie dieselfde. Ek sien daagliks mense wat opdaag vir die aftree wedstryd soos die All Blacks. Hulle is eenvoudig voorbereid en kan hulle goue jare ingaan met soveel selfvertroue dat hulle op die aanval in plaas van verdediging kan wees. Dan is daar weer ander wat in die gevaarlike posisie is dat hulle uit desperaatheid moet aanval uit hulle eie kwartgebied en op daardie manier nog meer “drieë” afstaan of verder in die moeilikheid beland. Die hartseer ding vir my is dat baie van hierdie mense (soos die All Blacks en Springbokke) 20 jaar vantevore op dieselfde voet was. Kom ek illustreer hoe skeinbaar ‘n skeinbare triviale verskil in strategie oor die langtermyn tot wyd uiteenlopende uitkomste lei.

2 Bure, Allistair en Steve, is albei 35 jaar oud, verdien presies dieselfde maandelikse salarisse en spaar ook maandeliks presies dieselfde persentasie (15%) van hulle bruto salaris met die hoop om eendag met 75% van hulle finale salarisse die gholfbane en bingo sale van die wêreld te gaan verken. Allistair is meer versigtig as Steve (alhoewel hy ‘n baie lang tyd oor het tot aftrede) en kies ‘n portefeulje wat inflasie met 4% per jaar uitpresteer. Steve kies ‘n effens (nie wesenlik) meer aggressiewe benadering waarin sy fondse met inflasie plus 6% groei. 2% Verskil in opbrengs klink nie na baie nie en na 10 jaar lyk dit ast ware ook nie wesenlik nie. Steve se fondswaarde is slegs 13% voor Allistair. Na nog 10 jaar, op ouderdom 55 is Steve egter 28% voor Allistair en op 65 wanneer hulle aftree het Steve 47% meer in sy aftree fonds as wat Allistair het. Op hierdie stadium is die gaping tussen Steve en Allistair reeds wesenlik en het dit beduidend verskillende uitkomste tot gevolg, alhoewel die twee op die oog af presies dieselfde lewenspaadjie gestap het tot hier. Dit is egter van hier af waar dinge begin interressant raak (en ek hoop van harte nie dit is ook so vir die Bokke nie). Sien grafiek hier onder.

* Ter illustrasie is ‘n begin salaris van R30 000pm gekies, ‘n 15% bydrae koers en ‘n 6% inflasie. Op 65 begin elkeen ‘n inkomste gelykstaande aan 75% van hulle finale salaris onttrek en verhoog dit jaarliks met 6%. Die beginsel is egter van toepassing op enige vlak van inkomste.

Op ouderdom 75 het Steve (Inflasie + 6%) 187% van die fondse wat Allistair (Inflasie + 4%) het en Allistair het reeds begin om van sy kapitaal te leef. Steve speel nog elke week gholf en toer jaarliks Australië en Kanada toe om vir sy kleinkinders te gaan kuier terwyl Allistair sy huis moes verkoop en intrek in tehuis Stillewaters in ‘n poging om sy rande te rek. Op ouerdom 85 is Allistair se fondse totaal uitgeput terwyl Steven s’n steeds toeneem.Is dit moontlik dat net 2% per jaar verskil in opbrengs so groot verskil kan maak aan twee mense se heil wat vir alle praktiese doeleindes hulle hele lewe lank gelykes was? Die antwoord is 1) Ongelukkig JA en 2) hierdie verskil is in baie gevalle heelwat meer.

Wat is belangrik om te leer uit bogenoemde voorbeeld?

• Ek sien steeds hopeloos te veel mense wat geen idee het wat hulle gemiddelde opbrengs op beleggings die afgelope 5 of 10 jaar was en hoe dit vergelyk met inflasie nie. Om te meet is om te weet. Jy MOET eenvoudig meet en dan moet jy hierdie syfers in jou persoonlike konteks toepas om te probeer verstaan of jy ‘n Steve of ‘n Allistair gaan wees sodat jy vroegtydig van strategie kan verander indien nodig.

• Doen moeite om vas te stel wat gepaste risiko is vir jou om te neem. Die aversie vir wisselvalligheid beweeg baie mense om eenvoudig te konserwatief te belê. Na bogenoemde voorbeeld hoef die langtermyn implikasie van hierdie gemaksone seker nie uitgespel te word nie.

• Jy kan dikwels ‘n ekstra 2% uit jou beleggings behaal deur net onnodige kostes uit te skakel (sonder om meer risiko te neem). Maak dus seker dat jy so min as moontlik kostes betaal sonder om essensiële advies, dienste of waardetoevoeging prys te gee.

• Die ironie van rugby en beleggings is dat jy slegs ‘n offensiewe aanslag kan inneem uit ‘n posisie van sterkte. Die oomblik as jy uit jou eie kwartgebied begin hardloop met die bal omdat jy onder druk is om baie punte in ‘n kort tydjie aan te teken is die kans baie groot dat jy afgeslag gaan word in die proses. Moet dus onder geen omstandighede probeer om by aftrede ‘n tekort uit te wis deur hoë risiko beleggings te maak nie.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP) en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.