Jou beleggings: Wat is die ‘Trump’-kaart?

Deur Andró Griessel 09 November 2016

Toe ek dié rubriek geskryf het, was die Amerikaanse presidentsverkiesing in volle swang, maar die uitkoms nog onbekend.

Teen die tyd dat jy hier lees, sal ons dalk reeds weet of ’n “duiwel” of die “diep blou see” die keuse van Amerikaners was as hul president en, moenie vergeet nie, leier van die magtigste land ter wêreld, vir minstens die volgende vier jaar.

Maar hoe beïnvloed dit jou beleggings en wat behoort jy te doen om jouself te verskans teen iets soos ’n Trump-oorwinning?

Dit is wat ’n kliënt verlede week by my wou weet toe hy ’n artikel aanstuur van ’n Amerikaanse finansiële joernalis met die opskrif “The danger to your portfolio from a Trump win is huge and you need to move now”.

As Trump wel gewen het, sal die korttermynimpak op markte en geldeeneenhede seker teen hierdie tyd al duidelik wees.

Maak nie ’n fout nie, dit kan wesenlik wees.

Ek wil my verstout om te sê dat dit nie saak maak indien jy ’n ernstige langtermynbelegger is nie.

Mark vs. maatskappye

Beleggers raak dikwels deurmekaar met die mark en die individuele maatskappye waaruit dit bestaan.

Die “mark” (JSE, DOW Jones, FTSE, ens.) is die plek waar kopers en verkopers daagliks opdaag en op grond van hul bui, die weer, ’n terreuraanval of ’n uitslag van ’n verkiesing of ’n afgraderingsvergadering besluit of hulle vandag ’n spesifieke bate koop of verkoop.

Die individuele maatskappye waaruit die mark saamgestel is, bestaan uit regte mense wat daagliks by die werk opdaag met een doel voor oë, naamlik om ’n produk of diens te lewer op só ’n manier dat hulle ’n wins kan genereer.

Wanneer mense voorspellings maak oor wat iets soos ’n Trump-oorwinning aan die “markte” gaan doen, is dit dus ’n voorspelling oor hoe die markdeelnemers gaan reageer op sulke nuus en nié op wat met die onderliggende maatskappye se winsgewendheid gaan gebeur nie.

Dit is ’n baie belangrike onderskeid wat ons moet verstaan.

Eersgenoemde is slegs van toepassing op jou as jy ’n sogenaamde dagverhandelaar is (iemand wat daagliks geld verwed op die beweging van die mark).

As jy ’n langtermynbelegger is en derhalwe ’n aandeelhouer in ’n maatskappy of maatskappye wat daagliks sake doen met dieselfde kliënte met wie hulle al vir 20 of 50 jaar sake doen, behoort jy ’n totaal ander uitkyk te hê.

Sake soos gewoonlik 

Kom ons vat die redenasie ’n stappie terug.

As jy ’n slaghuis besit, het jy met die aanloop tot die Amerikaanse verkiesingsuitslag iets verander aan jou normale sakebedrywighede? Het jy ewe skielik geen vleis bestel nie of dubbeld die hoeveelheid vleis bestel? Het jy die kassier afgedank en eerder self die werk begin doen omdat jy bang is vir die impak van Trump wat kan wen of het jy dalk meer vark ingekoop omdat dit lyk asof dit ewe skielik gewilder geraak het? Seer sekerlik nie?!

Net so wil ek my verstout om te sê dat of Hillary of Donald nou president van Amerika word aan die groot gros (daar sal uitsonderings wees) van maatskappye dit nie ’n vaal kol gaan maak ten opsigte van hul vermoë om hul produkte of dienste aan hul kliënte te lewer nie en dus aan hierdie maatskappye se langtermynwaarde nie.

Mandela, Zuma… Malema?

As jy steeds onseker is of die kwaliteit van jou nuut verkose president ’n groot impak op jou beleggings se prestasie gaan hê, is die era van wyle Nelson Mandela en Jacob Zuma dalk instruktief.

In die vyf jaar nadat Mandela tot ons president verkies is, het die JSE vir jou ’n skamele 5,2% per jaar opbrengs opgelewer.

In die vyf jaar nadat Zuma verkies is, het die JSE ’n gemiddelde opbrengs van 17,4% per jaar opgelewer.

Indien jy dus ’n kousale verband soek tussen wie jou president is en hoe jou opbrengs uit beleggings oor die daaropvolgende vyf jaar gaan lyk, moet ons seker almal hoop Julius Malema is ons volgende president!

Wat sou dus my antwoord wees aan iemand wat vra oor wat gaan die rand doen as Trump president word of hoe gaan dit my beleggings raak of wat kan ek doen om daarteen te verskans?

My antwoord vir ’n belegger sal dieselfde wees as vir die slagter: Ek het geen idee wat die korttermynimplikasies kan wees nie en ek sou aanraai jy doen niks.

Gaan eenvoudig aan waarmee jy besig is, want eerstens is dit baie moeilik om groot besluite te neem op grond van ’n stemming met ’n 50/50-uitkoms.

Tweedens, as daar enige mate van sekerheid was, sou dit waarskynlik reeds in pryse (veral van geldeenhede) weerspieël wees.

Derdens, behalwe as die nuwe president ’n totaal nuwe ekonomiese bestel (soos sosialisme pleks van kapitalisme) in werking stel, sal hy waarskynlik geen of min impak op die groot gros van maatskappye se bedrywighede hê nie.

Lesse

’n Paar lesse wat wel belangrik is om te leer uit die Amerikaanse verkiesing is die volgende:

  1. Wanneer jy in die lewe gekonfronteer word met ’n keuse tussen twee opsies en albei is sleg, kies die minste sleg een. Ek sou dink in hierdie geval sal dit Clinton wees. Indien Trump gewen het, het Amerikaners se rasionaliteit hulle in die steek gelaat.
  2. Wanneer dit by toekomstige opbrengste kom, is dit jou waardasie-vertrekpunt wat jou toekomstige opbrengs bepaal, nie wie jou president is nie. Mandela het president geword in ’n tydperk toe plaaslike aandele duur was en Zuma toe dit goedkoop was – dit is so eenvoudig soos dit.
  3. Wees baie versigtig om heeldag werklikheidstelevisie te kyk. Indien jy jou brein heeldag met gemors voer, is dit amper ’n uitgemaakte saak dat jy eendag tussen twee slegte opsies gaan moet kies.
  4. Wanneer jy emosiebelaaide opskrifte sien soos “you need to move now”, blaai vinnig na die sportgedeelte van die koerant en lees eerder wat is Allister Coetzee se plan om die Bokke weer op die wenpad te kry.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Pro­Vérte Wealth & Risk Management. Volg hom gerus op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.