Jy kan verdrink in water van gemiddeld 30 cm

Deur Andró Griessel 29 Oktober 2016

Daar is ’n gesegde wat lui ’n mens kan verdrink in water wat gemiddeld 30 cm diep is.

Die beginsel is dat ’n gemiddelde bloot ’n gemiddelde is, en dat watervlakke wat gemiddeld 30 cm diep is, by sekere plekke tot 3 m diep kan wees.

As jy jou hier bevind en jy kan nie swem nie, gaan die wete dat die gemiddelde diepte jou slegs tot by jou kuite in die water sal laat staan, van geen waarde wees nie.

Hierdie fout kan ’n mens ongelukkig ook maklik maak ten opsigte van gemiddelde beleggingsopbrengste. Dit is ’n fout wat veral mense wat nou op aftrede staan of onlangs afgetree het, duur te staan kan kom.

Kom ek illustreer wat ek probeer sê aan die hand van ’n voorbeeld, naamlik die gemiddelde jaarlikse opbrengs wat gelewer is deur een van die topfondsbestuurders oor ’n 20-jaar-tydperk van 4 Oktober 1994 tot 30 September 2014 in ’n gebalanseerde fonds.

Opbrengs in gebalanseerde fonds

tabel

Die feiteblad van dié spesifieke fonds dui die afgelope tien jaar se prestasie aan as gemiddeld 10,3% per jaar. Omdat hierdie tydperk ook die ineenstorting van 2008 insluit, sou die meeste mense baie gemaklik wees om langtermyn-aftreebeplanning op grond van dié syfer te doen. Die meeste ander gehalte-fondsbestuurders se prestasie is soortgelyk.

As mens egter daarop let dat die opbrengste vir so lank as ’n dekade met bykans 3,5% per jaar verskil vir dieselfde fonds, behoort ons onsself af te vra wat die impak sal wees as jou eerste tien jaar van aftrede soortgelyk aan 1994 tot 2004 is in plaas van 2004 tot 2014? Die meegaande grafiek probeer hierdie verskil duidelik maak.
14nov

In die projeksies het ek aangeneem die afgetrede persoon begin met ’n onttrekkingskoers van 6% (bruto) van sy kapitaal en verhoog jaarliks sy inkomste met 7% om by te hou met inflasie.

As ons bloot aanvaar dat hierdie fonds oor die volgende 30 jaar die prestasie van die afgelope 30 jaar sal volg (’n gevaarlike aanname) dan sien ons dat die fonds ongeveer tot op sy 90ste verjaardag sal hou voordat dit heeltemal uitgeput is.

Begin hy egter met die maer jare eerste (soos 1994 tot 2004) sal sy kapitaal twee jaar vroeër uitgeput wees.

As die goeie jare eerste kom (soos vir mense wat vyf jaar gelede afgetree het), sal sy kapitaal waarskynlik hou tot 93.

Die volgorde waarin opbrengste kom, maak dus in bogenoemde geval bykans ’n sesjaar-verskil (of 72 meer uitbetalings) aan hoe lank die geld sal hou.

Probeer ek uit bogenoemde sê dat tydsberekening belangrik is en jy moet probeer om jou geld te belê as die maer jare verby is?

Geensins, maar daar is wel lesse uit bogenoemde te leer:

    • Voorspellings is vir die ­voëls, maar as iemand ’n geweer teen my kop druk en sê ek moet sê watter soort opbrengste ons kan verwag uit soortgelyke gebalanseerde fondse met ’n 75%-blootstelling aan Suid-Afrika, sou ek sê die volgende paar jaar gaan waarskynlik maer jare wees.
    • As dit wel die geval is, sou dit omsigtig wees om die afgelope tien jaar se opbrengste op hierdie soort fondse te ignoreer en jou visier op ongeveer 70% van daardie opbrengste te stel. Indien jou somme steeds klop, behoort jy nie te onrustig te slaap nie. Maak dus seker dat as die fondse waarin jy belê se langtermyn- gemiddelde opbrengs 10% per jaar was oor die afgelope tien jaar, jou kapitaal ook sal hou as jy net ’n opbrengs van 7% behaal.
    • Diversifikasie en sinvolle batetoewysing gaan belangriker as ooit wees. Dit is belangrik om duur bates te probeer vermy, maar steeds genoeg groeibates in jou portefeulje te hou om inflasie oor die lang termyn te klop.
    • As jy beswaarlik genoeg geld het om jou enduit te hou en jou portefeulje is hoofsaaklik in aandele, is jy besig met ’n gevaarlike speletjie, aangesien prestasie op suiwer groeibates vir langer heelwat swakker kan wees. Jy kan jou aftreebeplanning ’n ernstige knou gee as die markte skerp sou daal kort ná aftrede en jy van daardie geld moet leef. Onthou dat jy nie ’n tekort by aftrede deur middel van abnormale hoë opbrengste (en per implikasie hoë risiko) kan regstel nie.
    • Vergeet van tydsberekening in die mark. As jy logies daaroor dink, is daar min mense vir wie die poging om die tydsberekening van markte reg te kry ’n sinvolle strategie is. As jy ’n gebalanseerde belegger is, behoort jou portefeulje selfs dramatiese markineenstortings relatief goed te kan hanteer. ’n Aggressiewe belegger moet tyd aan sy kant hê om enige tydelike insinkings (hoewel hulle groot kan wees) die hoof te bied.
  • Waak daarteen om ná aftrede jou strategie aan te pas in reaksie op wat in die markte gebeur. Baie mense het midde-in of ná die 2008-insinking hul portefeuljes gewysig na wesenlik meer konserwatiewe portefeuljes, wat natuurlik ’n dramatiese uitwerking op die langtermynuitkoms gehad het omdat die herstel van die portefeuljes toe wesenlik traer was as wat dit sou wees indien die batetoewysing eenvoudig dieselfde gelaat is.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.