Dink mooi voor jy jou beleggings skuif

Deur Andró Griessel, November 2016

Jy is ontevrede met hoe vrot jou beleggings op die oomblik vaar. Moet jy verkoop en iets anders probeer? Andró Griessel kyk na dié dilemma.

As jy die nare gevoel kry dat jou welvaart die afgelope twee jaar water getrap het, is jy waarskynlik nie ver van die kol af nie. Veral plaaslike bateklasse het maar swaar geleef en die meeste beleggers is wesenlik oorgewig in hierdie gebied (sien grafika hierbo).

Die probleem is egter dat die meeste beleggers selfs swakker gevaar het as die markopbrengs omdat hulle skuiwe maak in hul portefeuljes op grond van korttermynprestasie of gebrek daaraan.

’n Bekende batebestuurder het in die week ’n artikel gepubliseer waarin hy duidelik aantoon hoe sy gebalanseerde fonds se tydelike onderprestasie van ’n jaar of wat gelede uitvloeie tot gevolg gehad het op die mees ongeleë tyd, terwyl sy prestasie natuurlik net hierna weer wesenlik beter was as sy mededingers s’n.

Die beleggers wat as gevolg van die onderprestasie geskuif het, het die herstel gemis.

Dié gedrag, om agter korttermynprestasie aan te hardloop of van swak prestasie af weg te hardloop, is endemies aan die beleggingsbedryf en het ’n wesenlike uitwerking op beleggers se opbrengste.

Kom ek illustreer aan die hand van ’n voorbeeld met werklike opbrengste van ’n spesifieke portefeulje.

Met die hersiening van die portefeulje en die prestasie van die onderliggende fondse moet daar besluite oor die toekoms geneem word. Hierdie besluite neem gewoonlik een van die volgende drie vorme aan.

Roete 1: Raak ontslae van die swak beleggings

Dit word gewoonlik gedoen deur die geld daaruit oor te plaas na die twee fondse wat goed gevaar het. Vir die doel van die oefening gaan ek aanvaar dat ons Fonds B se geld voeg by Fonds A en Fonds C se geld voeg by Fonds D. Die waardes op 31 Oktober 2016 sou dan soos volg daarna uitsien.
Roete 2: Geen verandering aan die portefeulje  

Roete 3: Herbalanseer portefeulje

Dit word weer in pas gebring met die oorspronklike toewysing (volgens persentasie, dus 30% in Fonds A, 25% in Fonds B, 20% in Fonds C en 25% in Fonds D).

Hoewel bogenoemde moontlik ’n bietjie oorvereenvoudig is en die antwoord oor ’n tweejaar­tydperk nie altyd dieselfde sal wees nie, is die beginsels beslis geldig en is daar ’n paar lesse om hieruit te leer.

  • Die koste van gedrag(sogenaamde “behaviour gap”) van sekere beleggers is verreweg die hoogste koste op hul portefeulje. Dit is egter ’n onsigbare koste en waaroor ongelukkig baie min gepraat word in hoofstroom- finansiële publikasies. In bogenoemde geval was dit tussen 6% en 7% per jaar se groei wat ingeboet is! As dit gereeld herhaal word, sal hierdie belegger op heeltemal ’n ander plek eindig as waar hy kón gewees het.
  • Moet onder geen omstandighede veranderings aanbring aan jou portefeulje op grond van korttermynprestasie Hierdie is eenvoudig ’n baie swak aanwyser van wat in die toekoms gaan gebeur. As jy jouself of jou adviseur vang dat julle reaktief optree, is dit tyd vir ’n lang, harde kyk na jou/jul emosionele vermoë om die wisselvalligheid van markte te hanteer. ’n Gebrek aan hierdie vaardigheid sal jou baie geld kos oor tyd.
  • Die herbalansering van jou portefeulje van tyd tot tyd is ­belangrik vir verskeie redes, maar die grootste daarvan is dat fondse wat goed vaar, outomaties ’n groter verhouding van jou totale belegging begin uitmaak. Ongelukkig raak die risiko in jou portefeulje vir groot dalings iewers vorentoe outomaties groter.
  • Die herbalansering van portefeuljes kan implikasies vir kapitaalwinsbelastinghê (na gelang van die soort produk), maar dit is selde die moeite werd om nié ’n portefeulje te herbalanseer in ’n poging om die belasting vry te spring nie. Onthou dat die belasting eenvoudig ophoop terwyl jou portefeulje se risiko moontlik wesenlik toeneem weens die gewigte wat ver van die oorspronklike toewysing wegbeweeg. In Roete 3 hierbo maak Fonds B ná die baie goeie jaar wat dit beleef het 34% van die portefeulje uit terwyl die oorspronklike bedoeling was om slegs 25%-blootstelling hieraan te hê.

Hou maar kop oor die volgende paar maande, ek het ’n vermoede die drang om impulsiewe besluite te neem (en hier verwys ek nie na jou behoefte om jou Springboktrui aan die brand te steek nie) gaan groot wees.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.