Storm op die JSE: Drink tee en bly kalm

Deur Andró Griessel 10 Desember 2016

Ek kry onlangs ’n e-pos van ’n kliënt wat sy ongemak uitspreek oor sy belegging wat met ’n raps meer as 7% gedaal het die afgelope jaar.

In finansiële markte is 7% weliswaar nie baie nie, maar die probleem is die tydsduur hiervan. ’n Jaar is al ’n redelike lang tyd om vir jou neseier te wag om te begin groei.

Jy kan vergewe word as jy wonder of die eier nie dalk vrot is nie.

As ek egter net na die JSE se indeks van alle aandele oor die afgelope 20 jaar kyk en ek verminder die datapunte na jaarliks in plaas van daagliks dan was 7 uit die 20 punte laer as die vorige jaar.

Dit is dus belangrik om te onthou as jy in genoteerde groei­bates soos aandele en eiendom belê is, is ’n negatiewe opbrengs oor een jaar ’n relatief algemene verskynsel.

Een maal per jaar

Toe mense vir die eerste keer vir Warren Buffett gevra het of hy ook hul geld sal belê, was hy teensinnig om dit te doen, want reeds op ’n baie vroeë ouderdom het hy besef die meeste mense het nie die vermoë om rasioneel te bly wanneer hulle tydelike verliese ly nie.

Hy het dan ook op een voorwaarde ingestem – en dit is dat hy slegs een maal per jaar skriftelik met hulle sal kommunikeer, maar geen onderhoude of oproepe sou toestaan gedurende die jaar nie.

Buffett het geweet een van die doeltreffendste maniere om wisselvalligheid te verminder, is eenvoudig om minder gereeld na die data te kyk.

Oor die afgelope 20 jaar was daar nie minder nie as 21 gevalle waar die mark in ’n kort tydjie met meer as 10% gedaal het. By sewe geleenthede was hierdie dalings meer as 20% en by twee geleenthede was dit meer as 40%!

Ten spyte van hierdie op-en-af-bewegings sou ’n belegging van R100 000 steeds gegroei het tot ongeveer R725 000 vandag.

Die probleem met die mens­like brein is as jy hom inligting voer (soos: my belegging het gedaal in waarde), wil die brein daardie inligting verwerk en met ’n oplossing vorendag kom.

Hoe meer gereeld jy hom bombardeer met hierdie inligting, hoe groter gaan die ongemak van onaktiwiteit raak.

Bedryfsnorme dikteer dat beleggingsmaatskappye minstens kwartaalliks vir beleggers ’n staat stuur met die waarde van hul beleggings daarop.

Sekere maatskappye, tot my frustrasie, stuur maandeliks state.

Dié frekwensie moedig eenvoudig die verkeerde gedrag by beleggers aan, wat uiteindelik tot suboptimale besluite aan die belegger se kant lei.

Moet jy niks doen?

Die sindroom om op laagtepunte te verkoop en op hoogtepunte te koop, is al holrug gery in finansiële publikasies, maar met goeie rede, want ongeag hoeveel daarteen gewaarsku word, is dit steeds aan die orde van die dag.

So, moet ’n mens dan jou kop soos ’n volstruis in die sand steek en vir ewig in dieselfde belegging bly ten spyte van wat gebeur? Die antwoord hierop is ja én nee.

Dit is baie belangrik om eerstens te verstaan waarin jy belê is. As jy in ’n gediversifiseerde portefeulje is van verskillende aandele en/of bateklasse waar die onderliggende fondse of aandele aktief bestuur word, is die antwoord ja: Jy moet eenvoudig ontspan en die mense aan wie jy die geld toevertrou het, toelaat om hul werk te doen.

As jy in ’n enkele aandeel belê is met ’n sikliese aard (soos sekere hulpbronaandele) of jy het ’n baie groot blootstelling aan een of twee aandele wat wesenlik oorgewaardeer is, dan sal die handhaaf van die status quo heel moontlik nie die gewenste uitkoms hê nie.

Dit is baie belangrik om te verstaan dat aandeelpryse oor tyd groei teen die tempo waarin die verdienste van die maatskappye groei.

Hierdie sterk verhouding is baie duidelik uit die meegaande grafiek van die JSE se aandeelprysstygings teenoor die verdienstegroei oor 50 jaar.

In ’n maatskappy soos British American Tobacco is hierdie groei stelselmatig en voorspelbaar en jy kan dan ook verwag dat so ’n maatskappy se aandeelprys ’n soortgelyke tendens sal volg as die JSE se indeks van alle aandele.

MAKSIMUM OPBRENGS TE ALLE TYE OOR ALLE MARK-OMSTANDIGHEDE IS NIE ’N DOELWIT NIE.

Sekere hulpbronaandele (sogenaamde sikliese aandele) se winste en verliese kom egter met rukke en stote. By tye maak hulle rekordwinste en by ander tye rekordverliese, weens faktore soos vraag en aanbod na kommoditeite en wisselkoersskommelings.

’n Belegging in ’n maatskappy soos AngloGold sou byvoorbeeld oor die afgelope 30 jaar amper geen opbrengs opgelewer het vir ’n belegger wat ’n koop-en-vergeet-benadering gevolg het nie. Beleggers wat egter op laagtepunte gekoop het en op hoogtepunte kon verkoop, sou baie groot winste kon maak.

So hoe gemaak?

Sukses in die beleggingsomgewing al dan nie, hang grootliks (ek wil my verstout om te sê 100%) af van die gehalte van die proses wat jy volg. As jou fondsbestuurder en/of finansiële adviseur ’n gedissiplineerde proses volg en jy langtermyndoelwitte het, is daar geen rede om af te wyk van jou beplanning weens korttermynskommelinge of -dalings nie.

Skommelinge is, soos aangedui, natuurlik en moet eintlik te wagte wees.

Nie ek of enigiemand anders het wesenlike insigte oor hoe lank of hoe diep die huidige korreksie op die markte gaan wees nie en enige tyd wat ons bestee om dit te probeer voorspel, is tyd wat ons beter kon benut het deur te gaan gholf speel.

As jou portefeulje relevant vir jou risikoprofiel en doelwitte saamgestel is, moet jy jou ook nie te veel hieraan steur nie.

Lees ook: ‘Help, ek verloor kapitaal’

Hou jou oog op die langtermyndoelwit en maak seker dat jy steeds onder konserwatiewe aannames jou doelwitte sal bereik.

Maksimum opbrengs te alle tye oor alle markomstandighede is nie ’n doelwit nie.

As dít is wat jy van jou fondsbestuurder of finansiële adviseur verwag, is die kanse vir teleurstelling groot.

As die markte jou werklik senuagtig maak en die gehalte van jou lewe begin beïnvloed, het ek net een stukkie raad vir jou: Moenie so gereeld kyk nie!

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911.