Andró Griessel: Dink mooi oor aftreegeld, verband

Moet ek my aftreegeld opeis en die geld in my verband sit?  Dis ’n vraag wat finansiële adviseurs gereeld kry en ons tipiese antwoord (myne inkluis) is gewoonlik ’n selfversekerde “nee”.

By die redes waarom die standaard-antwoord “nee” is, en dit waarskynlik in die meeste gevalle ook die regte antwoord is, sal ek later uitkom, maar ek wil tog illustreer dat die besluit nie heeltemal so voor die hand liggend is nie.

Onthou, as jy in ’n pensioen-, voorsorg- of bewaringsfonds belê is, mag jy slegs belê in fondse wat aan regulasie 28 voldoen en dus perke plaas op byvoorbeeld hoeveel geld in aandele, eiendom en oorsee belê mag word.

Vir die meeste mense beteken dit dat hul aftreegeld in een of ’n kombinasie van gebalanseerde fondse belê sal wees.

In die vergelyking hierby het ek die afgelope tien jaar se swakste, beste en gemiddelde presteerder onder die gebalanseerde fondse geneem en dit vergelyk met wat jou uitkoms sou gewees het as jy tien jaar gelede belasting sou betaal op jou aftreegeld (in dié geval R750 000) en die saldo in jou huisverband (teen prima -1%) sou belê.

Die voorbeeld is effens oorvereenvoudig omdat ek met huidige belastingtabelle werk en nie tien jaar gelede s’n nie. Let ook op dat ek die fondse se prestasie (vanaf Morningstar) geneem het en slegs 1% afgetrek het van die gepubliseerde opbrengs vir administrasie- en adviesgelde. Dis beskeie – in baie gevalle sou koste veel meer as 1% gewees het.

Vir die doel van die oefening het ek ’n fonds met ’n waarde van R750 000 geneem en aanvaar die persoon het vier moontlike scenario’s. Scenario 1 tot 3 is waar hy dit in die fonds los, maar in onderskeidelik die swaks presterende fonds, die gemiddelde fonds of die bes presterende fonds belê het. Scenario 4 is waar hy sy geld onttrek, R138 600 belasting betaal het en die saldo van R611 400 op sy verband afbetaal het.

Let wel: Die grafiek toon slegs die opbrengs op beleggings of rente gespaar op die verband en sluit nie die oorspronklike kapitaal in nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat as rente- en opbrengskoerse die tendens van die afgelope tien jaar voortsit, jy in fondse moet belê wat bogemiddeld presteer op platforms waar jou administrasie- en adviesgelde nie 1% oorskry nie as jy ’n beter uitkoms aan die einde wil bewerkstellig as om langtermynskuld te delg.

Probeer ek dus sê dat jy jou nabelaste pensioengeld moet vat as jy jou werkgewer se diens verlaat of dit uit jou bewaringsfonds moet onttrek?

Nee, geensins – ek dink sulke raad sou onverskillig wees. Ek sal egter my nek uitsteek deur te sê om alle kliënte met dieselfde kwas te verf, is amper net so onverskillig. Daar is gevalle waar dit na my mening beslis sin sou maak om maar die belasting te betaal en die nabelaste geld elders te belê.

Van die argumente vir of teen onttrekking is die volgende:

Argumente téén onttrekking

  • Aftreefondse geniet beskerming onder die insolvensiewet. Om dus geld te onttrek omdat jy kontantvloeiprobleme het, kan katastrofies wees.
  • As jy soos die meeste mense in een of ’n kombinasie van die vier bekendste gebalanseerde fondse, naamlik Allan Gray Balanced, Coronation Balanced Plus, Investec Opportunity en Foord Balanced belê het, sou jy heelwat beter as die gemiddelde fonds gevaar het en dus beter as die huislening gepresteer het oor dieselfde tydperk. Indien hierdie relatiewe prestasie kon voortduur, maak dit sin om in die fonds te bly.
  • Een van die hoofredes waarom mense ná 30 jaar van werk geen pensioen het nie, is omdat hulle hul aftreegeld onttrek en toe verkwis het, of in bedenklike beleggingskemas verloor het. Die meeste mense het eenvoudig nie die selfdissipline om nie die geld vir lewenstyl aan te wend nie. Die gedragsaspek in hierdie besluit is massief en moenie onderskat word nie.
  • Dit kan lei tot ’n vorm van dubbele belasting. Op 1 Maart 2011 het wetgewing van krag geword wat bepaal dat onttrekkings wat jy uit aftreefondse maak, by aftrede bygereken word by jou toegelate enkelbedragonttrekking. Jy kan dus die belastingvoordeel hierop verbeur. Rentekoerse kan verder daal, wat die relatiewe aantreklikheid van die afbetaling van skuld vergeleke met ander beleggings minder maak.

Argumente vír onttrekking

  • Aftreefondse by aftrede bied slegs ’n gedeelte belastingvry (tans R500 000) terwyl die saldo belasbaar is of ’n belasbare inkomste moet verskaf. Wanneer die geld onttrek word, word dit nabelaste geld en kan die opbrengs daarop in die toekoms belasting- vriendelik uitbetaal word.
  • Geen verdere beperking op batetoewysing vanaf die datum van onttrekking tot aftrede nie. Jy sou dus 100% in ­eiendom of buitelandse bates of enigiets anders kon belê.

Jou eie omstandighede

Oorweeg hierdie as jy wonder of dit vir jóú sal sin maak:

Hoe goed is jou geskiedenis van finansiële dissipline? Indien nie goed nie, moenie onttrek nie. As jy ’n geneigdheid tot dobbel het, moenie onttrek nie.

Hoe lyk die prestasie van jou fonds in verhouding tot die bedryf (ná koste)? As jy nie voor die gemiddelde is nie (oor sinvolle metingsperiodes van drie jaar of langer), is dit dalk tyd vir optrede. Hierdie optrede is nie noodwendig onttrekking nie.

Hoe lyk die res van jou beleggingsportefeulje?

Hoe lank voordat jy moet aftree? Hoe nader aan aftrede, hoe moeiliker is dit om die verlies aan belasting te vergoed. Die afgelope tien jaar was ’n betreklik moeilike metingsperiode. Gebalanseerde fondse se langtermynprestasie (20 jaar en langer) is wesenlik beter as wat die syfers oor die afgelope tien jaar aandui. Die toekoms is onseker en ek sou ongemaklik wees om te projekteer teen meer as 10% per jaar netto groei.

Watter rentekoers betaal jy? Hoe laer jou koers, hoe minder sinvol om te onttrek.

Om op te som, ek dink vir 80% of meer mense maak dit geen sin om hul aftreegeld voor aftrede te onttrek om in hul huisverband in te betaal nie. Daar is egter meer gesofistikeerde beleggers of mense met unieke situasies vir wie die alternatiewe aanwending van die nabelaste bedrag vrugte kan dra.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.