Hier’s die som wat jou hare sal laat rys

Hoeveel geld het jy regtig nodig om gemaklik te kan aftree?

Dit is baie duidelik dat die meeste mense nie die vaagste benul het hoe groot dié syfer werklik is nie.

Baie mense maak oorvereenvoudigde somme om te probeer raam hoeveel hulle benodig om ná aftrede hul lewenspeil te handhaaf.

Die eerste prys is natuurlik om na ’n gekwalifiseerde finansiële beplanner te gaan om jou te help met projeksies oor jou aftreebehoeftes en enige tekorte wat daar moontlik is.

Indien jy egter nie kan of wil nie, of soos in baie mense se geval, eenvoudig niemand vertrou nie, kan die meegaande matriks jou moontlik help om ’n idee van die omvang van die uitdaging te kry.

Dit wys hoeveel maal jou jaarlikse inkomstebehoefte jy by aftrede in kapitaal gaan benodig as jy vir jou eie pensioen verantwoordelik is. Voordat ek daarby kom, wil ek net die aannames wat ek gebruik het, uitlig.

  • Dit is van toepassing op enige jaarlikse inkomstebehoefte.
  • Geen voorsiening is gemaak vir belasting nie en dit is dus ’n bruto inkomstesyfer.
  • Ek aanvaar dat jy jou inkomste ná aftrede elke jaar met 6% sal wil aanpas (min of meer die inflasiekoers).
  • Ek aanvaar die beleggings moet hou tot ouderdom 90 jaar, maar sal dan geheel en al uitgeput wees.
  • Faktore is afgerond na die naaste 1x toe.

Praktiese voorbeeld

Kom ek illustreer hoe om die matriks te gebruik aan die hand van ’n praktiese voorbeeld:

Om jou kop in die sand te druk, is nie ’n strategie nie. As jy besef jy het ’n probleem, begin soek vir die oplossings.

Die Koekemoers is 60, wil nou aftree en wil seker maak hulle het genoeg geld daarvoor. Die Koekemoers is gematigde beleggers en gaan hul geld in beleggings plaas wat gemiddeld 10% opbrengs per jaar (ná alle koste) oplewer.

Die Koekemoers wil graag R360 000 per jaar (R30 000 per maand) ná aftrede hê om hul lewenstyl te handhaaf. As ons dan na die matriks kyk en die kruising tussen 10% en ouderdom 60 lees, sien ons die Koekemoers het 17 x R360 000 (jaarlikse inkomstebehoefte), dus ’n minimum van R6 120 000 nodig.

In dieselfde asem, indien die Koekemoers baie konserwatiewe beleggers is en in fondse belê wat slegs 6% gemiddelde opbrengs (ná koste) lewer, sal hulle 29 x R360 000, dus R10 440 000, benodig as die geld moet hou tot 90.

As jy nog nie by aftrede is nie

As jy argumentsonthalwe 55 is en jy gaan op 65 aftree, maar wil nóú reeds ’n idee kry van wat die nominale teiken is waarvoor jy moet mik, kan jy die volgende formule toepas:

Geskatte behoefte in huidige geldwaarde (ons maak ’n aanname van R30 000 per maand) x (1 + inflasiekoers as ’n faktor van 100)^(aantal jare tot aftrede). (Die ^ staan vir tot die mag.)

In die voorbeeld hierbo sal dit dus wees: R30 000 x (1,06)^10 = R53 725.

Indien die persoon dus wil bereken wat die “pot geld” gaan wees wat hy gaan bymekaar moet maak tot en met 65 is dit R53 725 x 12 (maande) x 15 (faktor vir ouderdom 65 en 10% groei) = R9 670 500.

Let op hierna

Daar is ’n paar belangrike punte om in ag te neem ten opsigte van bogenoemde:

Om 10% ná alle koste te realiseer uit ’n belegging moet jy bereid wees om redelik baie te waag. Ek kom te veel mense teë wat 10% as ’n opbrengs aanvaar, maar dan portefeuljes saamstel wat te konserwatief is of op platforms is wat eenvoudig te duur is om hierdie opbrengs te behaal ná koste.

Om te meet, is om te weet. Jy móét eenvoudig weet wat jou langtermynopbrengs van jou beleggings tot op hede was, hoe dit vergelyk met wat in die mark gebeur het en dan realistiese aannames maak oor wat jou opbrengs in die toekoms gaan wees.

Uit die matriks behoort dit duidelik te wees dat as jy 12% verwag, maar 8% ontvang, jy bitter ver van die merk af is en derhalwe kan jou geld halfpad deur aftrede opdroog. Om jou kop in die sand te druk, is nie ’n strategie nie. As jy besef jy het ’n probleem, begin soek vir die oplossings.

Te dikwels is die advies van beplanners dat jy 20% of selfs 40% van jou salaris moet begin spaar om die tekort uit te wis. Mense wat dit as advies aanbied, verstaan duidelik nie dat weinig mense daardie soort surplus in hul kontantvloei beskikbaar het.

As jy 40% van jou salaris kán spaar, sal jy in die eerste plek waarskynlik nie in die dilemma gewees het nie. Indien jy ’n kort tydperk oor het tot aftrede, gaan ’n ekstra 2 persentasiepunt-groei per jaar ook nie ’n groot verskil maak nie.

Tyd kan help

Al wat jou red as jy ’n groot agterstand het kort voor aftrede, is tyd.

Deur jou aftrede met drie tot vyf jaar uit te stel of seker te maak dat jy in die eerste vyf tot tien jaar ná aftrede jou inkomste aanvul, kan jy ’n geweldige verbetering in jou situasie bewerkstellig.

Neem jou woonhuis in ag. Dikwels kan die opbrengs uit die verkoop van ’n woonhuis die inkomste vir die laaste paar jaar van jou lewe verskaf.

90 is na my mening te jonk as jy by aftrede blakend gesond is. Ons aanvaar vir die doeleindes van dié oefening dat jou geld teen 90 uitgeput sal wees, maar as jou lewensverwagting langer is (of jy geld wil nalaat), moet die tydperk langer gemaak word.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.