Andró Griessel: Let op dié fynskrif met lewensdekking

04 Maart 2017

Die meeste mense sal eerder die hare op hul Jack Russell tel as om ’n artikel oor lewensversekering te lees. Maar lees verder, pleit Andró Griessel.

Lewensversekering is dan ’n besprekingspunt wat ek met vrug gebruik wanneer iemand sukkel om aan die slaap te raak.

Daar is egter wel ’n paar interessante aspekte om van kennis te neem en algemene foute wat ons in mense se beplannings sien wat jou duur te staan kan kom.

As jy dus lewensversekering het, staan ’n paar minute daaraan af om na die volgende op te let.

1. Premiepatrone

Wanneer jy lewensversekering uitneem, het jy ’n opsie tussen verskillende premiepatrone. Sien die grafiek hoe dieselfde hoeveelheid dekking op ’n 45-jarige nie-roker se lewe verkry kan word.

Dit is moeilik om dit van die grafiek af te lees, maar die groen lyn (verpligte premiegroei van 10%) begin op ’n premie van R213 per maand, terwyl die blou lyn (standaard-premiepatroon) op R406 per maand begin – dus byna dubbeld so duur.

Op 83 (indien jy dan nog die dekking het) sal die aanvanklike premie van R213 al R98 129 per maand (oftewel sowat R10 113 per maand in vandag se koopkrag vir relatief minder dekking as wat jy tans het) beloop.

Daarteenoor sal die aanvanklike premie van R406 per maand “slegs” R50 421 (oftewel R5 196 in vandag se koopkrag) beloop.

Oor die leeftyd van die polis sou jy R4 696 564 betaal het aan premies op die standard-premiepatroon en R8 155 661 op die 10%- verpligte premiepatroon, terwyl die dekking wat jy sal geniet op 83 gelyk sal wees aan R6 704 751.

Die 3 belangrikste lesse hieruit is:

  1. Goedkoop koop kan ook duur koop wees as jy nie ’n pertinente strategie oor jou lewensdekking het nie;
  2. Lewensversekering is nie ’n belegging nie; en
  3. As jy van plan is om dit vir watter rede ook al lewenslank te hou, moet jy bitter ver wegbly van verpligte premiepatrone.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek sê nie verpligte premiegroei-patrone het nie ’n plek in jou beplanning nie. Dit kan baie handig benut word waar lewensversekering byvoorbeeld as tydelik beskou word en die een of ander tyd gestaak of afgeskaal gaan word.

Dit kan ook handig wees as tydelike kontantvloei probleme jou noodsaak om premies te verlaag terwyl jy dit nie kan bekostig om dekking te verlaag nie.

Dit word ongelukkig dikwels verkeerdelik verkoop sonder dat mense die langtermyn implikasies verstaan van wat met die premie gaan gebeur.    

2. Selfdood en gevaarlike bedrywighede

Ek wil nie vir enigiemand idees gee nie, maar daar is steeds heelwat verwarring by mense oor die selfdoodklousule op polisse.

Die klousule is slegs vir twee jaar vanaf die uitneem van die polis en is nie ’n standaard- permanente uitsluiting nie. As jy ’n geskiedenis van depressie of sielkundige probleme het, kan daar egter wel ’n permanente uitsluiting vir selfdood op jou polis ingestel word.

Besering of dood as gevolg van die beoefening van ’n gevaarlike aktiwiteit is nog ’n algemene wanopvatting. As jy vir die naweek saam met jou vriende weggaan en in ’n oomblik van bravade besluit julle om te gaan rekspring, en jou no. 2-stappers glip uit die rekband, sal die versekeraar nie jou eis afkeur nie.

Dit is wanneer jy gevaarlike aktiwiteite as ’n sport of beroep beoefen dat jy dit aan jou versekeraar moet blootlê.

Jy sal dan gewoonlik ’n uitsluiting of belading vir dekking op hierdie spesifieke aktiwiteit ontvang.

As jy ’n gevaarlike sport of aktiwiteit beoefen, of die minister van finansies is en onseker is of die versekeraar jou weens hierdie aktiwiteit as ’n groter as normale risiko gaan beskou, verklaar dit eerder deur middel van ’n spesiale verklaring sodat hulle jou risiko kan beoordeel. Jou uitbetaling kan wesenlik nadelig beïnvloed word indien die inligting ná die tyd aan die lig kom.

3. Rokerstatus en beroepsverandering

Die meeste versekeraars, met die uitsondering van een waaraan ek nou kan dink, vereis dat jy hulle in kennis stel wanneer jou rokerstatus of beroep verander, wat dan ’n gevolglike verandering in jou risiko (en dus premie) tot gevolg kan hê.

Deur dit nie te doen nie, neem jy die risiko dat jou dekking proporsioneel minder uitbetaal sal word tot wat jou premieverandering sou gewees het indien jy hulle wel in kennis gestel het.

Dit is dus nie die moeite werd om nie dié inligting van versekeraars te weerhou nie.

MENSE SAL GOU AANDUI DAT HULLE 10% VAN HUL DAG HANDE-ARBEID DOEN, TERWYL WAT HULLE DOEN GEENSINS KWALIFISEER AS HANDE-ARBEID NIE EN DIE PREMIE ONNODIG KAN VERHOOG.

Met beroepsverandering bedoel ek nie dat as jy ’n finansiële bestuurder was by maatskappy A en nou die besturende direkteur van maatskappy B is, dat jy jou versekeraar in kennis moet stel nie.

Dit is wanneer jou risiko verander (weens jou werk), dat jy die versekeraar in kennis moet stel.

As jy dus altyd ’n rekenmeester was, maar dan word jy ’n diepseeduiker, het jou risiko wesenlik verander en moet jy die versekeraar in kennis stel.

As jy onseker is of jou onlangse beroepsverandering as ’n verandering in jou risiko beskou kan word, voltooi liefs ’n beroepsvraelys en stuur dit aan jou versekeraar.

Op dié punt, wanneer die versekeraar vir jou opgedateerde inligting oor jou polis stuur en vra dat jy jou huidige inligting moet opdateer en vir hulle stuur, wees baie versigtig wat jy daar invul oor jou daaglikse aktiwiteite.

Mense vul maklik in dat hulle 20% van hul dag aan reis bestee. Dit beteken dat jy gemiddeld (vir vyf dae van die week) ’n uur en 40 minute op die pad bestee (uitgesluit van en na jou werk).

Hierdie klassifikasie plaas jou egter in ’n hoër risikokategorie, wat gevolglik onnodig jou premie kan verhoog.

Dieselfde geld hande-arbeid. Mense sal gou aandui dat hulle 10% van hul dag hande-arbeid doen, terwyl wat hulle doen geensins kwalifiseer as hande-arbeid nie en die premie onnodig kan verhoog.

Of ons nou daarvan hou of nie, lewensversekering maak ongelukkig ’n wesenlike deel van die meeste mense se beplanning uit en daar is baie slaggate en faktore waarvan jy kennis moet neem.

Kyk dus weer daarna en maak seker jou polis is gepas vir jou spesifieke omstandighede wanneer jy weer met jou beplanner praat.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.