Pitkos as jy die ‘goue gans’ is

Deur Andró Griessel 18 Maart 2017

My aanvanklike emosie was een van “hoor-hoor” toe die meeste kommentators ná die onlangse begrotingsrede ’n eier gelê het oor “die gans wat die goue eiers lê” wat verder ter slagting gelei word.

As ’n mens egter die emosie effens eenkant sit en nugter begin dink oor sake, gee ’n paar ander perspektiewe stof tot nadenke.

Daar is twee aspekte waartussen onderskeid getref moet word: Aan die een kant of die huidige belastingbedeling wel so onregverdig is gegewe Suid-Afrika se unieke omstandighede, en aan die ander kant die ooglopende verkwisting van belasting­betalers se geld.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, die korrupsie, verkwisting en wanbesteding van belastinggeld het epidemiese proporsies aangeneem en dit is elke wetsgehoorsame burger se plig om alles in sy vermoë te doen om ’n einde hieraan te bring.

Hierdie is egter hoofsaaklik ’n politieke en regsproses en voordat ’n mens self in die pad van wetsverydeling of belastingontduiking afwandel (wat baie mense nou blykbaar oorweeg), moet jy jouself afvra of een oortreding van die wet beter is as ’n ander, ongeag wat jou motivering is.

As ons nie ons land wil sien opgaan in vlamme nie, sal dié wat wel gelukkig genoeg is om ’n inkomste te verdien (veral dié wat baie groot inkomstes verdien), maar die las moet dra. Hoe ons die regering van die dag tot verantwoording roep, is ’n ander saak.

As jy deel van die opstandige nagenoeg 0,2% van belastingbetalers is wat nou 45% van jou inkomste bo R1,5 miljoen aan Jan Taks moet gee, en veral as jy ’n besluitnemer oor ander mense en jou eie vergoeding is, oordink miskien net weer die volgende:

Suid-Afrika het die tweede grootste Gini-koëffissiënt (’n maatstaf wat ongelykheid in inkomsteverspreiding meet) in die wêreld. Volgens ’n artikel deur die Hay Group het die gaping tussen topbestuurders se vergoeding en dié van die gemiddelde werknemer in Suid-Afrika met ’n verdere 23,2% toegeneem tussen 2008 en 2014.

’n Studie oor die top-500 maatskappye in Amerika het getoon dat die faktor waarmee uitvoerende hoofde se vergoeding die gemiddelde werker se vergoeding oorskry, in 1950 gelyk was aan 20 keer. Teen 1980 het dit gegroei tot 42 keer, teen 2000 was dit 120 keer en in 2012 was dit reeds oor die 200 keer. Soortgelyke statistieke vir Suid-Afrika is nie geredelik beskikbaar nie, maar ’n vinnige blik oor een van ons bekende kleinhandelaars se nuutste finansiële state bevestig my vermoede dat die faktor in sekere gevalle aansienlik hoër is.

As ons gaan kyk na die effek van die nuwe belastingskale op ’n 6%-verhoging, dan sien ons dat iemand wat R360 000 per jaar (tipies middelklas) verdien het voor die verhoging, ná die impak van belasting ’n effektiewe 5,26%-verhoging gekry het, terwyl ’n persoon wat R2 miljoen per jaar verdien, “slegs” ’n 3,6%- effektiewe verhoging gekry het.

Hou egter in gedagte dat vir eersgenoemde persoon wat ’n vrou en twee kinders op sy mediese plan het, die styging in mediesefondspremies amper 40% van sy totale verhoging opslurp, terwyl die impak op die goue gans slegs ongeveer 13% is.

Die effek in praktyk is dat, hoewel die nuwe skale onregverdig lyk, die gaping tussen die 0,2% en die res eenvoudig groter en groter word.

Studies in Amerika het getoon dat die persentasie verhogings wat hoërinkomstegroepe kry, ook hoër is as in die laerinkomstegroepe. Ek is onseker of dit hier ook die geval is, maar die waarskynlikheid is groot.

Is die geld jou tyd werd?

Oordenking van bogenoemde het ’n paar gedagtes by my laat opkom:

Sover ek weet kon die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nog nie ’n model uitdink om tyd te takseer nie.

As jy tans ’n hoogs besoldigde persoon is, maar die prys betaal ten opsigte van tyd vir jouself of vir jou gesin (soos so baie doen), gaan dink weer oor die sinvolheid van die pad waarop jy is.

Ons weet ook dat die marginale nut van elke ekstra R1-vergoeding in ’n stadium begin afneem, met ander woorde daar kom ’n punt wat jy nie gelukkiger word as jy meer geld verdien nie.

Om ’n 40 jaar lange loopbaan se ure in 30 jaar te probeer inprop, maak op verskeie vlakke nie sin nie. Jy kan byvoorbeeld jou nabelaste uurlikse inkomste heelwat verhoog deur 20% minder ure te werk vir 10% minder vergoeding.

Indien jy in die gelukkige posisie is om jou maatskappy se vergoedingsmodel vas te stel, vra jouself af of die faktor waarmee jou vergoeding dié van jou gemiddelde werker oorskry, regtig regverdig kan word?

Hierdie raak ’n emosionele debat, maar ek dink mense oorskat soms hul eie waarde. Die feit dat die aard van jou pos in ’n maatskappy jou in die posisie plaas om ’n wesenlike verskil te maak aan die “bottom line”, eerder as jou eie superieure intellektuele of ander vermoëns, word dikwels misgekyk. Hierdie argument dra, na my mening, veral gewig waar jy aangestel is en nie die stigter van die organisasie was nie.

Daar is reeds leiers wat probeer om ’n verskil te maak, soos die voormalige uitvoerende hoof van die sementmaatskappy PPC, Ketso Gordhan, wat die faktor tussen topbestuursvergoeding en die gemiddelde werker afgebring het van 120 keer tot 40 keer.

Uit ondervinding is filantropie egter iets wat jy nie namens ander mense (lees die res van topbestuur) kan doen nie en daarom is die inwerkingstelling van dié soort filosofie in groter organisasies makliker gesê as gedaan.

In kleiner organisasies (waarvan daar duisende in die land is) is dit egter ’n relatief maklike kopskuif om te maak.

Die bekende wysheid “with great power comes great responsibility” kom onwillekeurig by my op.

Of ons dit nou wil weet of nie, vir ’n samelewing om ordelik te funksioneer, kan beginsels van menslikheid en regverdigheid nie geïgnoreer word nie.

Diegene met die mag om ’n langer tafel te dek eerder as om hoër mure te bou, het ’n geleentheid om ’n nalatenskap te los wat uit meer as persoonlike familiewelvaart bestaan.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.