Andró Griessel: Is daar ‘n resep vir kitswelvaart?

Wat is die resep vir kitswelvaart?

Laat ons nou maar eerlik wees, wys my iemand wat nie belangstel in die resep vir vinnige welvaart nie, en ek wys aan jou ’n leuenaar.

Dié soeke na die pot goud aan die einde van die reënboog is dan ook dikwels die inspirasie agter heelwat e-posse wat ek ontvang wat as volg begin: “Het jy al gehoor van XYZ (voeg enige naam wat jy wil hier in)? Ek weet dit lyk te goed om waar te wees, maar ek het ’n bietjie huiswerk gedoen en dit lyk vir my baie belowend…”

’n Onlangse brief van ’n kliënt sê dan verder: “My soektog is die volgende Amazon of Apple, ens.” Ons kon hier seker PSG, Capitec of Naspers se name ook ingevoeg het uit ons plaaslike konteks.

Dis geensins ’n onsinnige vraag nie, want die maatskappye hierbo genoem is inderdaad geldige maatskappye wat daarin kon slaag om oor lang periodes hul verdienste te groei teen astronomiese tempo’s.

Wat volg is my (effens geredigeerde) antwoord aan hom. Miskien is dit ’n vraag waarmee jy al geworstel het en kan my antwoord ook vir jou van waarde wees:

Laat ek begin deur te sê ek weet nie wat XYZ is nie, maar as dit nie XYZ is nie, is dit bitcoin of iets dergeliks. Deur die eeue heen was daar gereeld iets wat gelyk het of dit eenvoudig die gravitasiekrag van die aarde ontsnap en net op en op gaan.

Benewens dat saamgestelde groei teen ’n koers van 100% per jaar of selfs 50% per jaar baie vinnig ’n wiskundige onmoontlikheid raak, deurstaan dié “bates” normaalweg nie rasionele ondersoek nie.

Maar kom ek probeer jou vraag beantwoord oor wanneer en hoeveel aandag jy hieraan moet gee. Eerstens, die rede waarom ’n mens aandag aan so iets sal wil gee, is mos voor die hand liggend. Wie van ons sal nie vyf jaar terug R100 000 wou belê en vandag is dit R139 miljoen nie? Wat terloops is wat gebeur het met iemand wat toe bitcoins gekoop het.

Die probleem is die volgende: Bitcoin is na my mening ’n droombeeld en daar sal ’n dag kom wat dit waardeloos sal wees.

In die meer legitieme arena kan ons na die wonderkinders van aandele gaan kyk, soos Naspers, Capitec, PSG, Tesla, ensovoorts. Dié maatskappye het dit reggekry om oor lang periodes (vyf jaar of selfs langer) te groei teen ongeveer 40% tot 60% per jaar.

So, gestel jy kon die volgende Naspers, Capitec of Tesla identifiseer, hoe kan jy munt slaan daaruit?

Die probleem wat die meeste mense uit die oog verloor, is dat jy ’n wesenlike gedeelte van jou totale welvaart moet “verbind” tot so ’n maatskappy as jy wil hê dit moet ’n wesenlike verskil maak aan jou totale welvaart.

Wanneer jy dus die toekomstige wenner geïdentifiseer het, wat vrek moeilik is, moet jy ’n groot genoeg hap vat dat 1) dit ’n groot verskil maak as jy reg is, maar 2) jou nie finansieel vernietig as jy verkeerd is nie.

Jy kan ook nie bekostig om te diversifiseer nie. Jy kan byvoorbeeld nie R500 000 vat en vyf toekomstige Nasperse probeer identifiseer nie, want die kans dat jy dan wel gemiddelde 50%  groei per jaar vir vyf jaar in ’n ry gaan kry, raak weglaatbaar klein.

Jy moet een perd kies en ’n groot klomp geld daarop sit. Nou, in jou eie besigheid kan jy dit doen.

Dit is presies wat Elon Musk gedoen het met sy ondernemings en die lyn tussen biljoenêr en bankrot was in ’n stadium vir hom bitter dun.

Ons weet van die paar biljoenêrs soos hy vir wie dit gewerk het, maar van die duisende wat nou weer by hul ouers in ’n agterkamertjie woon, hoor ons nié.

Jou kanse om dus oornag ’n biljoenêr te raak deur middel van passiewe beleggings sónder om ook die risiko te neem dat jy by iemand anders gaan moet bakhand staan, is bitter, bitter skraal.

Ten slotte: Dit is moontlik om 100 km in 40 minute af te lê, en jy sal dit dalk ’n paar keer agtermekaar regkry, maar as jy dit aanhou doen, sal dit jou dood beteken.

Soortgelyk: ’n Mens sal dalk een so ’n projek aanpak of belegging maak waar jy oor vyf jaar kapitaal teen 50% per jaar gegroei kry, wat jou waarskynlik net sal insuig om dit weer te probeer en weer te probeer totdat jy maar weer met niks opeindig of terug is waar jy begin het.

Sien hieronder ’n voorbeeld van hoe die uitkomste sal lyk vir iemand wie se totale welvaart R10 miljoen is en bereid is om 5% (R500 000) heeltemal te verloor en derhalwe in so ’n projek te stoot.

Hoe beter gefinansier jy is en hoe meer surpluskapitaal jy het, hoe ’n groter proporsie kan jy natuurlik wel op risiko plaas om “Lotto-kaartjies” mee te koop en dis dan ook waarom daar altyd gesê word “geld maak meer geld”.

’n Paar laaste punte oor bogenoemde:

1. Die syfers kan dramaties verander as jy bereid is om byvoorbeeld 50% van jou welvaart op die spel te plaas. Dit is egter ’n tweesnydende swaard en behalwe as jy in beheer is van die besigheid waarin die kapitaal is, is die lyn tussen dom en dapper hier baie vaag.

2. As jy dink ’n geleentheid waar kapitaal teen 50% per jaar groei, gaan by jou uitkom via iemand wat ’n kommissie verdien om dit aan jou bekend te stel, dink weer!

3. Die stigters van maatskappye genoem geniet dalk vandag astronomiese welvaart, maar selfs dít het nie oornag gekom nie. In baie gevalle was dit die gevolg van 20 jaar se swoeg en sweet.

Ons is geneig om te konsentreer op die 0,01% van mense wat wel oor ’n baie kort tydjie astronomiese welvaart vergader het, maar behalwe as jy familie van JZ is, is daar ongelukkig vir die ander 99,99% geen resep vir kitswelvaart sonder om kitsarmoede as alternatief te aanvaar nie.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf tweeweekliks vir Netwerk24.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.