Ek soek alles in kontant!

Jy sal verskoon word as jy die opskrif lees en dink hierdie artikel gaan oor ’n Gupta-transaksie of ’n egskeidingsbevel.

As jy egter die afgelope 18 maande of wat mense moes adviseer oor hoe om hul swaarverdiende geldjies te belê, het jy dalk al dié frase teëgekom.

Nou, hier is die dilemma met finansiële artikels soos hierdie: Dit is baie soos ’n preek in die kerk . . . Jy praat met die mense wat reeds in die kerk is!

Die eintlike mense vir wie dié preek bedoel is, is nie daar om dit te hoor nie.

Net so lees die finansiële ongeletterdes ongelukkig nie altyd Sake nie.

Selfs diegene wat getrou Saterdae Sakelees, is nie immuun teen die sielkundige worsteling wat dikwels met beleggings gepaardgaan nie.

As jy egter bewus is van iemand wat nie in die finansiële “kerk” kom nie, maar besig is om benoude spronge te maak oor hul beleggings, stuur gerus maar dié artikel aan.

Dit gebeur elke nou en dan dat sogenaamde groeibates verander in krimpbates en dat hierdie inkrimping vir ’n ongemaklike lang tydperk voortduur of dat dit geruime tyd eenvoudig water trap, soos onlangs die geval was.

Dan duik vrae op soos: “Moet ek nie eerder alles in ’n geldmarkrekening plaas nie? Waarom moet ek in iets belê wat teen 1% of 2% groei of selfs negatief groei terwyl ek 8% of selfs 9% kan kry (voor belasting, let wel) by die bank?”

Indien jy nou dieselfde vrae vra, hou miskien maar net die volgende in gedagte:

In die kwartaal tot einde Junie het waarskynlik die bekendste plaaslike batebestuurder se fondse die volgende eenjaarsyfers opgelewer (voor enige platform- of adviesgelde):

  • Geldmarkrekening: 7,32%
  • Stabiele fonds: 5,23%
  • Gebalanseerde fonds: 2,84%
  • Plaaslike aandelefonds: 2,53%
  • Buitelandse aandelefonds: 13,82%

Behalwe as jy ’n wesenlike blootstelling aan die buitelandse fonds gehad het, sou jy dus nie ná koste beter kon vaar as ’n geldmarkbelegging nie.

Om egter nou met die tru­spieëltjie vol in jou visier te besluit om jou geld om te skakel na die geldmark, al lyk dit reg op kort termyn, is eenvoudig dwaas op lang termyn.

Omdat mense nie altyd die impak van dié soort besluite verstaan nie, sal ’n voorbeeld – hoewel redelik ekstreem – dalk die boodskap tuisbring.

As jy tien jaar gelede, op 14 Augustus 2007, besluit het om ’n langtermyn-groeibelegging te maak, sou jy baie vinnig in ’n situasie gewees het waar die opbrengs uit geldmarkfondse meer sou wees as uit die groeifondse wat jy gekies het.

Teen November 2008 sou jy vir jou adviseur gesê het (soos ’n boer van Caledon vir my gesê het) dat jy meer van beleggings af weet as hy en jou geld waarskynlik onttrek het en dit in kontant gesit het. Net om dit ’n jaar later weer in die mark te sit teen ’n hoër prys.

Wel, is dit so erg? sal jy vra. Ten minste het jy rustig geslaap vir daardie jaar wat jou geld in die geldmark was.

Wel, kom ons kyk wat die syfers sê. Bestudeer bietjie dié tabel:

As ek na dieselfde fondse van dieselfde firma oor die afgelope tien jaar kyk, dan sien ons dat ’n belegging van R1 miljoen, indien jy dit sou belê en nooit sou skuif nie, die opbrengste sou oplewer soos aangedui op die grafika as Opsie A.

Indien jy ná die groot val op 1 Maart 2008 al jou geld uit die fondse waarin dit was, geskuif het na die geldmark, en ’n jaar later, toe dit weer veilig gevoel het, alles teruggeskuif het na die oorspronklike fonds waarin dit was, sou jou uitkoms gelyk het soos in Opsie B.

Indien jy soos sommige mense deur goeie opbrengste voor 2007 vir die eerste keer na aandelefondse getrek is, maar toe so ’n groot skrik op die lyf geloop het met die ineenstorting van 2008 dat jy dit na kontant omgeskakel het en nóóit weer in die sogenaamde hoër-risikofondse belê het nie, was jou uitkoms soos in Opsie C.

Uit die grafika is daar ’n paar belangrike punte om uit te lig:

  • Selfs al sou jy jou geld ná die skrik op die lyf van 2008 in die geldmark gaan parkeer het, maar ná ’n jaar weer teruggekeer het na jou oorspronklike belegging, sou jy nog beter doen as ’n suiwer geldmarkbelegging.
  • Een oordeelsfout (weens paniekerige reaktiewe gedrag) kan jou soveel as 2 persentasiepunte per jaar aan jou gemiddelde opbrengs oor ’n tienjaar-tydperk kos. Moet dus nie emosionele en reaktiewe besluite neem nie. Die langtermynimplikasies kan vernietigend wees.
  • As jy nie beheer het oor jou emosies nie en nie iemand genoeg vertrou om dit geheel en al in hul hande oor te laat nie, bly liefs weg van sogenaamde groeibates af, want die kans dat jy ’n goeie uitkoms vir jouself gaan bewerkstellig, is skraal.
  • Die prys wat jy betaal vir langtermyn-welvaartskepping is dikwels korttermyn- emosionele pyn. As jy nie bereid is om daardie pyn te verduur nie, sal jy moeilik wesenlike welvaart in die finansiële markte geskep kry en is ’n medium soos eiendom moontlik ’n beter beleggingsvoertuig vir jou. ) Kort termyn is dikwels nie so kort nie. As jy in 2008 op die piek van die mark belê het, sou dit jou bykans vier jaar geneem het voordat jou langtermyngemiddelde op jou groeibates hoër was as kontant.
  • Ten slotte: Bly in jou baan. As jy fundamenteel van strategie verander (soos om van aandele na kontant om te skakel of andersom) gegrond op onlangse historiese prestasie (goed of sleg), is jy waarskynlik besig om droog te maak.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.