Seks, Bitcoin en Kubusse

Die jaar is 1984 en die reuk van vrot melk hang oor ons agterstoep. My ma het nie per ongeluk die melk buite gelos nie, dit is Adriaan Nieuwoudt se vrotmelkkonkoksie, of kubusskema, wat veronderstel was om my ­ouers ryk te maak. Weekliks moes ’n mens net die droë poeieragtige vrot melk oes en vir mnr. Nieuwoudt in ’n koevertjie na Garies pos en ’n maand later stuur hy dan vir jou ’n vet tjek vir jou “moeite en kundigheid as poeierkweker”.

Dit kom daarop neer dat die R140 miljoen-bedrogspul was dat jy binne ’n maand of twee jou aanvanklike belegging terug sou maak en daarna skoon profyt, wat dit natuurlik 100% in die kamp van “te goed om waar te wees” geplaas het.

Die storie agter die vrotmelkpoeier was dat dit gebruik sou word in een of ander baie duur velsorgproduk en daarom kon hy vir jou ’n klomp geld betaal vir iets wat oënskynlik waardeloos was.

Die feit dat ek nie nou op my seiljag in die Bahamas lê nie, is ’n leidraad oor hoe goed hierdie plan uitgewerk het.

Izak du Plessis het ’n goeie artikel hieroor geskryf wat jy hier kan lees: Kniediep in die kubus

Draai die klok 34 jaar aan en dieselfde soort histerie heers tans oor iets genaamd bitcoin.

Ten spyte van ’n legio artikels hieroor in die laaste paar maande waarin kenners waarsku dat hulle dink dit gaan in trane eindig, neem die vrae wat ek hieroor kry, weekliks toe.

Hierdie is nie nog ’n tegniese artikel oor wat bitcoin nou eintlik is, hoe dit skakel aan blokkettingtegnologie en of dit ’n vorm van geldeenheid of verskansingsbelegging is nie.

Hierdie artikel gaan oor die sielkunde agter beleggingsborrels en die deel in ons brein wat aangetrokke is tot kitswelvaart (dieselfde deel waar seksuele prikkeling ontstaan) en hoe die vooruitsigte van kitswelvaart (net soos die vooruitsigte van kamersport) ’n totaal verdowende uitwerking op rasionele denke kan hê.

Bitcoin se prys ten tyde van hierdie skrywe is R52 700 vir een bitcoin. Die hoogste wat dit al was, is R64 175 per bitcoin (op 02 September 2017).

Op 2 September 2010 het een bitcoin jou slegs 45c gekos. Dit verteenwoordig ’n prysstyging van 445% per jaar oor die vorige sewe jaar.

Anders gestel, as jy R10 000 in bitcoin “belê” het sewe jaar gelede, sou jy vandag R1,4 miljard gehad het.

Nou stop gou net hier, haal diep asem sodat die suurstof jou brein ’n optimale geleentheid gun om nugter te dink, en vra vir jouself af of jy dink (1) dit is moontlik behalwe in die arena van ’n massiewe spekulatiewe borrel, en (2) of jy dink dit is herhaalbaar oor die volgende vyf jaar of selfs een jaar?

Net om dinge bietjie beter in perspektief te plaas:

  • Volgens die webwerf coinmarketcap.com is die totale mark vir kriptogeldeenhede tans gelyk aan sowat $137,5 miljard.
  • Dit sou van hierdie mark die 74ste grootste ekonomie ter wêreld gemaak het as dit ’n land was. Daar is reeds 1 128 van hierdie sogenaamde kripto-geldeenhede waarvan bitcoin bykans 50% van die “waarde” uitmaak.

Onthou een van die redes wat voorgehou word waarom ­bitcoin so waardevol is, is die beperkte aanbod daarvan. Dit is so goed om te sê jy moet my R10 miljoen vir my Toyota-bakkie betaal, want daar is net een van hulle.

Bitcoin se markwaarde beloop $65,5 miljard. Dit is ongeveer die grootte van die eertydse SAB, ’n maatskappy wat vir langer as 120 jaar bestaan het.

Onthou dat hierdie onsigbare “munte” is wat op rekenaars gegenereer word. Bitcoin self genereer nie ’n sent inkomste nie, betaal nie ’n dividend nie en die waarde word uit en uit deur waarnemings bepaal.

Is ek die enigste een wat vrot melk ruik? As bitcoin oor die volgende vyf jaar net teen die helfte van die tempo groei waarteen dit tot nou toe gegroei het, sal dit meer waardevol wees as die hele Amerikaanse ekonomie!

Bitcoin se prys word tans deur pure breinlose spekulasie gedryf. Dit is hierdie selfde ingesteldheid wat dit weer al die pad tot onder sal neem.

Skoolkinders, afgetrede dominees en haarkappers (met respek teenoor al hierdie beroepe) koop tans bitcoin vir geen ander rede as die feit dat die prys astronomies toegeneem het en daar gehoop word dat hierdie groeikoers sal voortduur.

Bitcoin se prys word tans deur pure breinlose spekulasie gedryf.

Dit is hierdie selfde ingesteldheid wat dit weer al die pad tot onder sal neem. Daar is min beter leidende aanduiders van ’n krom plek wat op pad is as hierdie tipe kuddegedrag.

Nadat ons al die slim praatjies gepraat het oor blokkettingtegnologie en hoe dit die wêreld gaan verander, bly kriptogeldeenhede steeds net ’n meganisme om geld van punt A na punt B te kry en is die wiskunde hieragter eenvoudig nie volhoubaar nie.

Die obsessie met bit­coin is vir my soortgelyk aan iemand wat miljoene rande begin betaal vir tjekboeke sodat hy R50-tjeks kan uitskryf.

Ek sal dít sê en die kans vat dat ek die gespot vir nog ’n jaar of wat moet verduur terwyl die oënskynlike waarde van bitcoin aanhou styg.

Ek het geen idee wat die werklike waarde van bitcoin of enigeen van die ander gool-geldeenhede is nie, maar dit is iewers tussen die huidige prys en R0 – en as ek moet raai, is dit baie nader aan laasgenoemde.

Die valuasies wat tans aan hierdie kriptogeldeenhede gekoppel word, oorskry eenvoudig alle grense van logika. Dit sal beleggers baat om nie die verlede in die toekoms in te ekstrapoleer nie. Ek wil verder gaan en sê dat as een of ander vorm van ingryping nie binnekort plaasvind nie, hierdie die volgende subprima krisis gaan wees.

Hoe gaan dit afloop?

Ek het geen idee nie, maar vermoed eksterne ingryping sal ’n katalisator wees indien iets anders nie hier skeefloop nie.

Selfs in die afwesigheid van ’n katalisator sal bitcoin se gewildheid waarskynlik taan en een van sy adjudante soos ethe­reum, ripple of litecoin sal die volgende histerie veroorsaak totdat die kaartehuisie aan die brand raak en almal na dieselfde, baie klein, uitgang gaan storm.

Uit ’n finansiële-advies-oogpunt sal ek net die volgende sê: Waag gerus ’n paar rand as jy ’n dobbelgees het, maar moenie geld waag wat jy in die toekoms kan nodig kry of gaan mis nie.

Jy moet alles kan verloor sonder dat dit ’n vaal kol maak, want die kans dat dit gaan gebeur, is na my mening baie goed.

  • Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Volg hom op Twitter by @Andro720911. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nieen enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.