Buitelandse beleggings: ‘Sit als op rooi!’

Daar is ’n luide gejuig (of is dit ’n gekreun) by een van die roulette-tafels in die casino.

’n George Clooney-kloon stap geïnteresseerd nader. Hy sien waaroor die konsternasie gaan. Die bord bokant die roulette-tafel wys dat die laaste 11 nommers almal swart was.

Die man skuif ’n pak R100-note na die deler en sê selfversekerd: “Sit alles op rooi.”

Daar is ’n gemurmur om die tafel en nog voor die deler die wit balletjie begin tol, boots ’n paar omstanders vir “George” na deur ook geld op rooi te sit.

Die opgewondenheid om die tafel is aansteeklik en lok ’n klein skare.

Dan begin die balletjie hop van die een gleuf na die ander en kom uiteindelik tot stilstand.

“13 swart!” skree die deler.

Terwyl die skare snak na hul asem en die deler sy geld naderhark, draai die man om en stap weg in die rigting van die casino se uitgang.

Wat is die les? Jy kan nie met sekerheid weet wat jy nie met sekerheid kan weet nie.

In beleggings is dit ’n les wat menige fondsbestuurder, adviseur en private belegger al op die harde manier geleer het.

Suid-Afrika is tans in een van sy uitdagendste politieke en ekonomiese tye nog. Jy sal ’n paar dekades terug moet gaan om ’n tydperk van groter pessimisme te vind.

Dit lyk asof sommige mense tans dink die boodskap om “alles buiteland toe te vat” waarborg ’n goeie uitkoms.

Hierdie boodskap het momentum gekry die afgelope paar maande en twee baie prominente figure het die afgelope twee weke sterk menings hieroor uitgespreek. Om regverdig te wees teenoor hulle: Dit is iets wat hulle al geruime tyd sê. ’n Mens moet toegee dat as jy al vyf jaar gelede hierdie raad begin volg het, dit goeie vrugte sou dra.

Lees ook:

En kom ons wees maar eerlik – dit is wat mense wil hoor! Mense wil nie half onseker menings van kundiges hoor in tye van massiewe onsekerheid nie.

Hulle soek leiding.

Sentiment korreleer nie met prestasie nie

Wanneer jy negatiewe of positiewe sentiment (en ekonomiese data) wil inkorporeer in beleggingsbesluite, is dit wel raadsaam om die geskiedenis te raadpleeg oor hoe van hierdie sentimente gekorreleer het met werklike uitkomste.

  • Toe wyle Nelson Mandela die president was (’n tydperk van groot optimisme) het die JSE ’n rapsie meer as 10% per jaar opgelewer teenoor die wêreldindeks se 34% per jaar.
  • Terwyl Jacob Zuma die president was, het die JSE ’n gemiddelde opbrengs van meer as 16% per jaar gelewer teenoor die wêreldindeks se minder as 10%.

Die vorige keer toe die konsensussiening was dat jy alles uit Suid-Afrika moet neem en in die buiteland moet belê (2001) het Suid-Afrikaanse aandele in die sewe jaar daarna ’n gemiddelde opbrengs van meer as 22% per jaar gelewer terwyl buitelandse aandele in randterme oor dieselfde periode presies 0% gelewer het.

Dit is bewys dat daar geen korrelasie tussen die ekonomiese groeikoers van ’n land en sy aandelebeurs se prestasie is nie. ’n Land kan dus teen 6% groei terwyl sy beurs nêrens heen gaan nie, terwyl ’n ander land teen 1% groei, maar sy beurs vaar goed.

Brasilië, met ’n groter skuldlas as Suid-Afrika en stellig ’n land met soortgelyke uitdagings ten opsigte van korrupsie en lae groei, se beurs het die afgelope jaar (tot einde September) met bykans 27% gegroei in dollarwaarde, terwyl Turkye, wat onlangs nog as ’n hopelose geval beskou is, se beurs met 33% gegroei het.

Wat doen jy met geld in die buiteland?

Wanneer jy jou geld na die buiteland neem, wat doen jy daarmee? Belê jy dit bloot in dollar? Indien wel, sal jy belê in die bateklas wat uit agt bateklasse oor die afgelope 20 jaar vir jou die swakste opbrengs sou oplewer.

Belê jy in ’n tipiese indeks- of buitelandse aandelefonds is jou blootstelling aan die Amerikaanse beurs waarskynlik naby aan 60%. Hierdie is ’n mark wat tans net goeie nuus inprys en op rekordvlakke verhandel.

Hiermee probeer ek nie ’n uitspraak maak oor die korttermynrigting van die Amerikaanse beurs nie, maar ek lig net die punt uit dat jy nie nou teen lae vlakke sal inkoop nie. Die Suid-Afrikaanse mark lyk op die oog af baie duur, maar wanneer die impak van die vyf grootste maatskappye (veral Naspers) uitgehaal word, kom ’n ander prentjie na vore.

Verstaan my reg, net soos dit vir die man in die casino logies gelyk het om alles op rooi te sit, net so logies lyk dit om tans die handdoek oor Suid-Afrika in te gooi en jou geld te skuif.

Buiten die tegniese komplikasies van dié strategie, sou ek aanvoer dat die geskiedenis ons geleer het dat indruk en realiteit dikwels nie dieselfde ding is nie en dat markte dikwels nie logies reageer nie.

Batetoewysing is ’n onemosionele evalueringsproses wat jou langtermyndoelwitte in ag neem.

Ek stem saam dat die groot gros van Suid-Afrikaners geheel en al te min blootstelling aan buitelandse bates het, maar hoe, wanneer en in wat jy daardie blootstelling kry, is ’n proses wat rustig en sorgvuldig gevolg moet word.

  • Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.